RIVERSDAL NUUS - Hessequa-munisipaliteit het sy plek onder die land se beste plaaslike owerhede bevestig met ’n derde plek by die eerste SAPOA Ratings Afrika Munisipale Prestasietoekennings, wat Donderdagaand tydens ’n galageleentheid by Sun City aangebied is.
Die toekennings, ’n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging (SAPOA) in samewerking met Ratings Afrika en die Bankvereniging van Suid-Afrika, vier munisipaliteite wat uitmunt in finansiële bestuur, dienslewering en infrastruktuurbelegging.
Volgens die Munisipale Finansiële Volhoubaarheidsindeks (MFSI), waarop die ranglys gebaseer is, is Hessequa uitgelig as een van die topdrie munisipaliteite in Suid-Afrika.
Die finale uitslag was:
1ste: Saldanha en Swartland (gesamentlik)
2de: Swellendam
3de: Hessequa
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het gesê dat die toekenning ’n bewys is van Hessequa se verbintenis tot gesonde finansiële praktyke en betroubare dienslewering.
“Te midde van groot uitdagings waarmee baie munisipaliteite tans worstel, is dit vir ons ’n eer om erken te word vir volhoubare bestuur en belegging in ons gemeenskappe,” het hy gesê.
Die SAPOA-inisiatief beklemtoon die belangrikheid van fiskale volhoubaarheid om ekonomiese groei aan te dryf en die welstand van die gemeenskap te versterk.
Hessequa het reeds ’n reputasie opgebou vir goeie finansiële bestuur, voldoende kontantreserwes en strategiese infrastruktuurbeleggings wat ’n gunstige klimaat vir inwoners en besighede skep.
“Hierdie prestasie behoort elke inwoner van Hessequa trots te maak,” het Riddles afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’