HEIDELBERG NUUS - Die jaarlikse Heidelberg-skou het verlede week weer groot opwinding gebring, met ’n propvol program wat iets vir jonk en oud gebied het.
Van Woensdag 11 tot Saterdag 14 Februarie het die skouterrein gewemel van landbou-aktiwiteite, kompetisies, vermaak en gesellige kuiergeleenthede.
Die verrigtinge het Woensdag afgeskop met perde-inskrywings en ’n gewilde skaapkopete in die Steakhouse.
Donderdag se program het vroeg begin met die perde-arena en pluimveeskou.
Nywerheidstalletjies en uitstallers in die Human Willemse-saal het besoekers vermaak, terwyl die toutrekkompetisie die hoofarena laat dreun het.
Vrydag se hondeskou was nóg ’n hoogtepunt. Bekende sanger Dassie het die aand in die Steakhouse opgetree en vir uitstekende vermaak gesorg.
Die babaskou, miniskoukoning en -koningin, asook die aankoms van die skoukoningin en haar prinsesse, het vir feestelike oomblikke gesorg.
Perde-items en kampioenskappe het die arenaprogram op ’n hoë noot afgesluit, terwyl G ’n T-musiekgroep die laaste aand se kuier tot middernag lewendig gehou het.
Die troeteltuin, voerlaai- en ander pretkompetisies het deurgaans gesinne gelok, en besoekers kon smul aan heerlike etes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’