HEIDELBERG NUUS - Die note begin vandag deur Heidelberg klink met die afskop van die Hessequa Harmoniefees, en feesgangers kan reeds op die eerste dag uitsien na ’n propvol program van gesprek, klassieke musiek en bekende kunstenaars.
Die fees het vanoggend om 09:00 by Skeerhok Padstal afgeskop met ’n landbou-ontbyt, aangebied deur Landbouburger se redakteur, Samantha van den Berg.
Sy het met die landbou-akademikus prof. Theo Kleynhans oor moderne boerdery en hoe sy lewe verander het toe hy die akademiese wêreld vir die praktyk van landbou verruil het, gesels.
Om 11:30 verskuif die fokus na musiek wanneer die Bulgarian Brunch by Proeviand aangebied word.
Miroslav Chakaryan op viool, Susan Mouton op tjello en Elna van der Merwe op klavier bring werke van Haydn, Brahms en Mendelssohn, asook tradisionele Bulgaarse musiek, na die verhoog.
Die eerste feesdag bereik vanaand om 19:00 ’n hoogtepunt met die openingskonsert, Spiritual Songs, in die Heidelberg-stadsaal.
Bekende kunstenaars Niël Rademan (bariton), Paulina Malefane (sopraan), Miro Chakaryan, Mouton en Van der Merwe tree saam met die RUK-koor onder leiding van Pam de Goede op.
Die program sluit geliefde geestelike en klassieke gunstelinge soos “Amazing Grace”, “Danny Boy” en “I’ll Walk with God” in.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’