HEIDELBERG NUUS - Een van dié dorp se groot 'biblioteke', Marion Cronjé, het Dinsdag 20 Januarie haar 96ste geboortedag herdenk.
Alombekend as Ant Marion, 'n nooi Roberts, het hierdie besondere mylpaal die afgelope naweek saam met van haar kinders asook 'n paar ander familielede en vriende gevier.
Die lewenslustige en immer-groen anker van die Cronjé, Roberts en Edom stambome, was vir 60 jaar en vier maande met haar eggenoot, Alfred, oftewel oom Alfie, getroud.
Oom Alfie, een van die dorp se eerste skoenmakers, het haar op 22 Augustus 2012 ontval.
Uit die huwelik is drie dogters en sewe seuns gebore, waarvan drie seuns, onder wie 'n tweeling, haar vooruitgegaan het.
Daar is ook 24 kleinkinders, 24 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind in haar kroos.
Ant Marion is ook die langslewende van haar Roberts-gesin asook die oudste van die Edom-stamboom.
Volgens haar dogter, Dolores Adams, is haar ma versot op lees, en sal sy enige boek of tydskrif waarop sy haar hande kan sit, met soveel genot lees.
Maar die beste leesstof vir dié diep gelowige vrou, is ongetwyfeld die Bybel, wat sy passievol elke dag lees en in haar swakheid uitleef as rolmodel vir haar familie, vriende, bure en kerkgemeente.
Ant Marion is ook vir meer as 50 jaar 'n toegewyde lid van die St. Barnabas Anglikaanse Kerk se Moedersunie.
Sy was ook tot onlangs 'n passievolle lid van die kerkkoor.
Benewens dat sy 'n toegewyde kerklid is, is sy ook daagliks in haar huis gedurig met haar Maker deur gebed in kontak.
Adams vertel baie trots dat alhoewel hul ma nie meer so gemaklik op haar knieë kan wees voor die Here nie, is sy gedurig, as daar by haar kamer ingeloer word, in gebed en gesprek met haar Maker.
Ant Marion, wat die anker in haar familie is, het ook vir meer as vier dekades die kerk se silwerware en linne met baie liefde versorg.
Sy is voorwaar soos 'n antieke lantern in die donkere wêreld waarin ons onsself tans bevind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’