Update
HEIDELBERG NUUS - Die veldbrand in die Heidelberg-berggebied is tans onder beheer, het die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) Donderdagoggend bevestig.
Verskeie teenbrande is Woensdag deur GRDM se brand- en reddingsdienste uitgevoer om die vuur weg te hou van landbou-infrastruktuur en strukture, asook om te verseker dat die brand oos van die Tradouwpas bly.
Reën het omstreeks 00:30 in die gebied begin uitsak, en teen 07:00 Donderdagoggend is sowat 35 mm reën gemeet - ’n groot verligting vir brandbestryders.
Operasionele spanne is intussen afgeskaal, met ’n patrolliespan wat deur die loop van die dag die gebied sal monitor.
Rolspelers wat by die brandbestryding betrokke was, sluit in Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Overberg-distriksmunisipaliteit, Hessequa-munisipaliteit se brandweerdienste, CapeNature, Working on Fire, die Southern Cape Fire Protection Association (SCFPA), plaaslike grondeienaars, die Grootvadersbosch-bewaringsgebied, asook Michael Raimondo vir die verskaffing van hommeltuigbeelde.
Die gemeenskap van Suurbraak word bedank vir hul ondersteuning, veral met die voorsiening van voedingshulp aan brandbestryders.
Lede van die publiek word versoek om enige veld- of natuurbrande onmiddellik aan te meld by die GRDM Noodoproepsentrum by 044 805 5071 of via WhatsApp by 081 709 5193.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’