RIVERSDAL NUUS - Die langverwagte derby tussen die tuisspan, Riversdal Blues, en sy aartsvyand, Heidelberg Rugbyklub - oftewel Heibi, soos hulle alombekend is - is net-net in ’n aksiebelaaide rillerstryd deur die besoekers met 30 - 27 gewen.
Dit nadat hulle ook naelskraap met 17 - 13 in die SWDRU Superliga A-wedstryd voorgeloop het.
Die wedstryd was tot aan die einde naelbytend vir beide spanne se fanatiese ondersteuners.
Heibi het vier drieë teenoor Blues se drie gedruk om ’n waardevolle bonuspunt te verseker, terwyl die tuisspan ook ’n welverdiende bonuspunt verdien het.
Die twee voorwedstryde was ook baie taai, dog opwindend, met die tuisspan se C-span wat met 15 - 11 koning gekraai het en die besoekers se B-span wat die knoop met 23 - 15 deurgehaak het.
Heibi speel volgende week tuis teen Harlequins van Oudtshoorn, terwyl Blues weg teen Barbarians van Mosselbaai speel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’