HEIDELBERG NUUS - Heidelberg Rugbyklub kan maar net nie ontslae raak van die albatros wat blykbaar om hul nek hang nie.
Gister moes hulle weer die knie buig ná ’n senutergende, dog aksiebelaaide SWDRU Superliga A Top 8-finaal teen Evergreens Rugbyklub van Pacaltsdorp, wat hulle met 20 - 19 geklop het.
Dít nadat Heibi gerieflik met 16 - 7 by rustyd voorgeloop het.
Heibi kan egter net hulself blameer vir die naelskraapse nederlaag, want met soveel balbesit en gebiedsvoordeel - asook die ondersteuning van die meerderheid van die duisende rugbygangers wat die rillerstryd bygewoon het - kan hulle maar net hand in eie boesem steek.
Ten spyte van die oorvloedige balbesit kon hulle egter slegs een drie aanteken teenoor die nuutgekroonde kampioene se drie drieë.
In die Uitdaagfinaal tussen Silver Stars van George en Harlequins van Oudtshoorn is Silver Stars as kampioene gekroon ná ’n naelskraapse oorwinning van 31 - 29.
Dít nadat hulle met 19 - 15 teen rustyd agter was.
Dit was altesaam ’n baie suksesvolle en opwindende dag vir SWD se rugbyliefhebbers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’