HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-rugbyklub het weer Saterdag bewys dat hul naelskraapse oorwinning van 33 - 26 oor Barbarians in die eerste ronde, geen gelukskoot was nie.
Dié keer het hulle weer in ’n baie taai wedstryd met 31 - 25 koning gekraai. Dit, nadat hulle rustyd in die spannende SWDRU Superliga Top 8-wedstryd met 21 - 11 voorgeloop het.
Die wedstryd het weereens sewe sprankelende drieë opgelewer.
Heibi het vier aangeteken om vir hulle ’n waardevolle bonuspunt te verseker, en Baabaas drie.
Jason Liebenberg, Heibi se vlymskerp binnesenter, het desondanks sy kopbesering vroeër in die wedstryd weer gewys waartoe hy in staat is, en is as speler van die wedstryd aangewys.
Heibi se derde en tweede spanne het ook hul wedstryde gewen, alhoewel dit ook by tye broekskeur gegaan het. Die C-span het met 17 - 8 gewen nadat hulle rustyd met 10 - 3 voor was, terwyl die B-span ook net-net met 35 - 32 gewen het, nadat die telling rustyd 21 - 10 in hulle guns was.
Heibi speel Saterdag weg teen die sukkelende mede-kampioene, Groot-Brakrivier, maar hulle sal op hul hoede moet wees teen die diep gekweste span.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’