STILBAAI NUUS - Seevisserye, die kommersiële vissermanne en die koswaens in Stilbaai-hawe is almal huurders van die nasionale departement van openbare werke, wat beheer uitoefen oor die infrastruktuur by die hawe.
Hulle sit sedert Maandag, 16 Februarie, sonder elektrisiteit nadat die kragtoevoer na Stilbaai-hawe afgesny is.
Hessequa-munisipaliteit is nie by magte om aan eksterne partye, soos Suid-Kaap Forum, bekend te maak watter kliënte geaffekteer word wanneer toevoer afgesny word nie. Die munisipaliteit het egter bevestig dat elektrisiteitstoevoer by verskeie persele gedurende dié week weens agterstallige skuld afgeskakel is.
Volgens die munisipaliteit is dié optrede geneem nadat talle kennisgewings uitgereik is waarin rekeninghouers versoek is om hul uitstaande bedrae te vereffen of, alternatiewelik, geskikte betalingsreëlings te tref in ooreenstemming met hul Kredietbeheer- en Skuldinvorderingsbeleid.
Met die Forum se besoek aan die hawe Vrydagaand het 'n paar vissermanne in die stikdonkerte gestaan en lyn natmaak. Die ligtoring se flitsende rooi liggie, wat deur sonkrag aangedryf word, was darem 'n vae baken van hoop in die donker.
Die munisipaliteit beklemtoon dat elektrisiteitstoevoer nie afgesny word tensy daar geen ander alternatief oorbly nie. Volgens betrokkenes rus die verantwoordelikheid by die nasionale departement van openbare werke wat al vir baie jare soos 'n dooie vis ronddobber.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’