HEIDELBERG NUUS - Die Starnation Art Studio se vakmanskap dra elke jaar tot die gehalte van Hessequa se Harmonie-kunstefees in dié dorp by.
Die kunsateljee en galery moet elke jaar, in opdrag van die feesbestuurder, Niël Rademan, ‘n beeldhou-installasie én die ambassadeurs-feestrofee ontwerp.
Vanjaar is konsertgangers in die voorportaal by die stadsaal - onderweg na die volgende klassieke musiekaanbieding of na die banketsaal, waar die streek se kunsfonds pronk - ‘n oomblik in verwondering gestuit met die aanskoue van ‘n tjello in vernuftige hekelfraaiheid getooi!
“Hekel is deesdae ‘n gewilde kontemporêre kunsvlytmedium. Ons het besluit om dié kreatiwiteit deel van vanjaar se Harmonie-kunstefees te ontgin,” sê die kunstenaar Louise Kluyts. Sy was die kurator van die ses uitstallings wat deel van die kunswandelroete was.
Louise en die meestermetaalsmid Andries Kluyts het ‘n tema gekies wat die gesofistikeerde musiektoon van die fees laat weerklink en besluit om ‘n volskaalse tjello-installasie te skep.
Andries het die elemente vir die lewensgetroue beeldhouwerk - twee meter hoog, sestig sentimeter wyd en dertig sentimeter diep - voorberei, waarna Anthony Kluyts sy vakmanskap ingespan het om die metaalraam aanmekaar te sweis en die volledige tjello op te bou.
Drie vingervaardige vroue - Hilda du Plessis, Heidi Myburgh en Christel Hurter - het twee maande lank aan die 120 blokkies van 15x15 cm elk gehekel.
Daarna het Louise al die blokkies aanmekaargewerk en al die elemente byeengebring om die finale beeld-installasie - met snare, brug en al - te skep.
Starnation het ook weer vanjaar die ambassadeursfeestrofee ontwerp. Rayn Kluyts (19) doen haar vakleerlingskap by dié kunsateljee. Sy moes die klassieke kunsmasker, wat ‘n vrolike en hartseer gesig uitbeeld, eiesoortig reïnterpreteer en het tradisionele metodes gebruik, die maskers uit koper en brons geskep en die geheel met komplementerende sterre afgerond.
Dié trofee is vanjaar gepas aan die gevierde aktrise en TV-persoonlikheid, Elsabé Daneel toegeken.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’