HEIDELBERG NUUS - Die laaste dag van Hessequa se Harmonie-kultuurfees verskuif Saterdag 21 September na die Dasjesdrift-plaas buite die dorp.
Hier word die feesbestuurder Niël Rademan se statige teaterhuisie, waenhuis en skuur in kleinkuns-teaters omgetower; geskik vir gehalte-produksies waar die lig mooi op meesterlikheid gaan val.
Hier gaan die blou lug helder teen die oggendson skyn en vroegaand teen ‘n sterrehemel in die maanskyn blink.
Elfuur die oggend gesels die joernalis en gewilde RSG-aanbieder Haidee Muller-Isaacs met die bekroonde skrywer Riana Scheepers oor haar kinderboeke, romans, digkuns en teater.
Om halfdrie kan feesgangers Scheepers se jongste werk, Hoe mooi val die lig, ervaar. Sy het dié musikale drama in opdrag spesiaal vir vanjaar se Harmoniefees geskep.
In hierdie klein hartsog-meesterstuk oor formidabele talente word die verhouding tussen die pianis Frédéric Chopin (vertolk deur die pianis Jose Dias) en die Franse skryfster Aurore Dupin (oftewel George Sand, vertolk deur Liza-Marié Loubser) uitgebeeld. Die musiek en woorde van twee kunstenaars - wat mekaar passievol liefgehad en geteister het, maar ook sublieme kunswerke laat onstaan het - vertel die verhaal in Frans - én Afrikaans.
Niël Rademan het die regie behartig, met ontwerp deur Lindi Smit.
Van halfvyf die middag word die klein fees met die groot hart in die plaasskuur afgesluit met ‘n konsert wat twee ure gaan duur. ‘n Musiekverskeidenheid - van bekende klassieke gunstelige en populêre werke - word beloof.
Die musici is Janel Speelman (sopraan), Jacobi de Villiers (mezzosopraan), Corneil Muller (bariton), Niël Rademan (bariton), Zanta Hofmeyr (viool), Susan Mouton (tjello) en Elna van der Merwe (klavier).
Feesgangers wat die afgelope week die ses uiteenlopende kunsuitstallings met hul kunspastpoort besigtig het, moet saam kom feesvier. Een gelukkige feesgangers gaan in 'n gelukstrekking 'n pragtige skildery deur die Swellemdam-kunstenaar Francois Gunter wen.
Feesgangers kan van vroegoggend tot laataand kuier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Hessequa se sewende Harmonie-kultuurfees word Saterdag 21 September op die plaas Dasjesdrift buite Heidelberg afgesluit.