SWELLENDAM NUUS - Groot kommer heers oor die veiligheid van veral bejaardes op plase nadat twee bejaarde egpare binne ’n week in die Swellendam-distrik aangeval is.
In die mees onlangse voorval is ’n bejaarde egpaar van Nederland, wat op besoek aan Suid-Afrika is, Vrydagaand (6 Maart) by ’n gasteplaas sowat 15 km oos van Swellendam langs die N2 in die rigting van Riversdal aangeval.
Die aanval het op die vooraand van die egpaar se terugkeer na Nederland plaasgevind.
Volgens beskikbare inligting het drie gewapende mans die egpaar aangeval. Die egpaar het egter teruggeveg en het gelukkig geen ernstige beserings opgedoen nie, hoewel die slagoffers erg getraumatiseer is.
Dit is volgens aanvanklike inligting die tweede soortgelyke voorval in die breër Suid-Kaap binne ’n week. In albei gevalle word beweer dat drie gewapende mans betrokke was en dat ’n soortgelyke werkswyse gebruik is.
’n Dringende beroep is op die publiek gedoen om op die uitkyk te wees vir die verdagtes.
Die politieke party Vryheidsfront Plus (VF Plus) het die aanval skerp veroordeel en gesê dat sulke voorvalle nie net kwesbare bejaardes raak nie, maar ook internasionale besoekers aan Suid-Afrika.
Volgens die party kan aanvalle soos hierdie die veiligheid van plaaslike gemeenskappe ondermyn en die streek se reputasie as toerismebestemming benadeel.
Die VF Plus het ook hul dank uitgespreek teenoor die Goukou-plaaswag, die polisie en ander rolspelers vir hul vinnige reaksie ná die aanval.
Die polisie ondersoek tans die voorvalle, terwyl intensiewe pogings aangewend word om die verdagtes op te spoor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’