Gallery Update Video
HESSEQUA NUUS - Ongeveer vyf jaar het verloop sedert Suid-Kaap Forum met die Goue Oues-projek begin het, waartydens ons nie net senior burgers in ons tehuise met verjaarsdaggeskenkies bederf het nie, maar ook met geskenke en soms optredes met spesiale dae, soos onder meer Paasfees, Moeders- en Vadersdae en Kersfees.
Gedurende hierdie tyd het verskeie borge dit vir ons moontlik gemaak om met die projek vol te hou, waaronder ons hoofborg, The Blinds Factory op Stilbaai, asook verskeie besighede en soms inwoners.
Aan u een en almal 'n groot dankie vir julle ondersteuning, waarsonder dit nie moontlik sou wees nie.
Die tyd het egter nou aangebreek om aan te beweeg en 'n ander projek aan te pak. Ons sal verseker elke senior burger wat in dié tyd diep in ons harte gekruip het, baie mis. Ons het baie van julle se lief en leed gedeel en dit was 'n riem onder die hart om baie van julle se vreugde waar te neem vir die onverwagte besoek en geskenkie. Baie dankie ook aan personeel by die tehuise wat ons behulpsaam was, ten spyte van hul besige skedules.
Ons het vir die laaste keer op Donderdag 5 Desember 2019 die tehuise besoek en behalwe van die geskenkies wat uitgedeel is, het joernalis Deona Aucamp en haar sangmaat van Stilbaai, George van den Berg inwoners met die lied 'May the good Lord bless and keep you' trakteer.
Ons wense aan u almal is vreugde en bo alles, goeie gesondheid.
Kyk 'n video hieronder:
Jan Lange op Riversdal se inwoners moes 'n rukkie van hul etenstyd afstaan terwyl geskenkies uitgedeel is.
Senior burgers van Ou Meule op Riversdal luister aandagtig na die liedjie, 'May the good Lord bless and keep you' deur Deona Aucamp van Suid-Kaap Forum en haar sangmaat, George van den Berg van Stilbaai. Elke persoon het 'n geskenkie ontvang.
Huis Lekkerbly op Stilbaai se inwoners het dit duidelik geniet.
Deona Aucamp en George van den Berg het die senior burgers met hul sang vermaak.
Inwoners van Huis Zenobia du Toit op Heidelberg wag vir hul geskenkies.
Stillerus en Soeterus op Melkhoutfontein het ook 'n beurt gekry.
Lees 'n vorige artikel: Goue Oues-projek maak klaar
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'