RIVERSDAL NUUS - Die dramagroep van Gerrit du Plessis Sekondêr het die afgelope naweek hul talent op een van Kaapstad se grootste teaterverhoë gewys toe hulle aan die Zabalaza Theatre Festival deelgeneem het.
Die groep het Saterdag 14 Maart hul produksie by die bekende Baxter Theatre Centre in Rondebosch, Kaapstad opgevoer nadat hulle vroeër by die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DCAS)-eindronde ’n uitmuntende vertoning gelewer het.
Die span is as een van slegs vier produksies gekies om hul werk by die fees op te voer, ’n uitstekende prestasie vir die leerders en die skool.
Die stuk, Action!, geskryf deur Adrian Swartz, is om 11:00 in die Pam Golding-teater opgevoer.
Die produksie bring energie, emosie en kragtige spel na die verhoog en het die talent en potensiaal van die jong akteurs duidelik gewys.
Volgens die skool is hulle uiters trots op die dramagroep wat met passie, harde werk en toewyding hul drome najaag en die skool se naam op ’n nasionale verhoog verteenwoordig het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’