Gallery
HEIDELBERG NUUS - Die tafels het Saterdag 2 September by vanjaar se Jubelfees behoorlik gekreun onder al die lekker tuisgebak en plaaslike produkte.
Oudergewoonte is die jaarlikse fees van die plaaslike NG kerk op die kerkterrein gehou. Jonk en oud kon kies en keur tussen die groot verskeidenheid.
Helpers het met 'n groot glimlag ondersteuners gehelp.
Braaivleisvure het die geur van die kosstalletjies onweerstaanbaar gemaak. Volgens ds. Heinie Vermeulen is die doel van die fees om geld vir die getuienis en diens van barmhartigheid in te samel, die verantwoordelikheid van die gemeente.
Die hele gemeente, in terme van alle dorps- en plaaswyke, asook Witsand se wyke is hierby betrokke.
"Dit is ook altyd 'n lekker kuiergeleentheid en ons is dankbaar dat dit vanjaar baie goed deur die gemeenskap ondersteun is. Ons het sover finansieel beter gedoen as verlede jaar. Ons is die Here innig dankbaar vir al die gewillige hande en oop beursies."
'n Kleurvolle vrugte- en groentestalletjie.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'