Update
HEIDELBERG NUUS - HEIDELBERG - Die verwoestende N2-botsing waarin 'n gesin van vier en 'n 34-jarige vrou hul lewens verloor het, het die breër gemeenskap diep geraak.
Die trompopbotsing tussen 'n sport-nutsvoertuig en 'n Toyota-bussie, wat deur Potgieter Vervoerdienste besit word, het Dinsdagoggend 7 Julie op die N2 naby Heidelberg plaasgevind.
Drie dood op toneel, 10 ernstig beseer
Drie volwassenes is op die toneel dood en 10 mense ernstig beseer. In die sportnuts-voertuig was 'n gesin van vier: die ma (44) en pa (42), wat op die toneel dood verklaar is, asook hul twee seuns (13 en 20), wat per ambulans hospitaal toe geneem is.
Die jonger seun is later dieselfde dag oorlede en die 20-jarige is Woensdagoggend 8 Julie in die Tygerberg-hospitaal oorlede.
Die polisie het nog nie hul identiteite bekend gemaak nie.
Van die passasiers in die bussie is 10 mense beseer en een vrou, wat geïdentifiseer is as Michele Lombard, 'n geliefde inwoner van Eljada-nasorgsentrum op Oudtshoorn, is op die toneel dood verklaar.
N2 etlike ure gesluit
Die N2 was vir etlike ure gesluit terwyl nooddienste gewerk het om verskeie pasiënte wat in albei voertuie vasgekeer was, te bevry, die beseerdes te behandel en die toneel op te ruim.
Nooddienste het in groot getalle op die toneel gereageer ná 'n noodlottige botsing tussen 'n SUV en 'n minibustaxi. Foto: Verskaf.
André Potgieter, eienaar van die Oudtshoorn-gebaseerde busdiens, sê die personeel is diep geskok en hartseer oor die voorval.
"Ons bedryf reeds 17 jaar lank die vervoerdiens en die veiligheid van ons passasiers was nog altyd ons eerste prioriteit."
Potgieter sê een van sy ervare bestuurders was aan die stuur van die bussie en dat Lombard tydens die botsing langs hom gesit het.
Hy sê die bestuurder is steeds in die hospitaal waar hy vir heupbeserings behandel word. Verskeie ander passasiers is ook beseer en ontvang behandeling in hospitale in Riversdal, Mosselbaai, Worcester en George.
Gerleede passasier
Potgieter het kort ná die botsing na die toneel gehaas en sê die toneel wat hom begroet het, was grusaam.
"Ek het daar met Michele se ouers gepraat. Sy was 'n gereelde passasier by ons en ons het haar baie goed geken. Sy was 'n besonderse mens met 'n ongelooflike mooi persoonlikheid. Ons harte gaan uit na haar familie, sowel as die families van die ander oorledenes."
Wyle Michele Lombard. Foto: Eljada-nasorgsentrum
Gerda Swart, bestuurder van Eljada-nasorgsentrum, 'n fasiliteit wat na volwassenes met intellektuele gestremdhede omsien, sê Lombard was vir 15 jaar 'n inwoner daar.
Sy sê Lombard was 'n geliefde lid van die gemeenskap en was op pad om die skoolvakansie saam met haar familie deur te bring.
Veel meer as 'n inwoner
"Michele was veel meer as net 'n inwoner. Sy was 'n gewaardeerde vriendin, spanmaat en geliefde lid van die Eljada-familie. Met haar spontane geaardheid, kreatiwiteit, liefdevolle hart en bereidwilligheid om altyd te help, het sy 'n besondere indruk op almal gemaak. Sy het nooit gehuiwer om in te spring waar hulp nodig was nie en was altyd betroubaar," het Swart gesê.
Lombard word oorleef deur haar pa, stiefma, biologiese ma en twee susters.
Medelye betoon
Toe die nuus van die botsing en die mense wat daarin gesterf het Suid-Kaap Forum se webwerf en Facebook-blad bereik het, het talle kommentare ingestroom van mense regoor die Tuinroete wat hul hartseer oor die verlies aan lewens uitgespreek het.
Baie van die kommentare het medelye aan die families en vriende van die oorledenes betoon.
Heidelberg-polisie se woordvoerder, sers. Keeno Fredericks, sê 'n saak van strafbare manslag is op die dag van die ongeluk geopen en die omstandighede rondom die botsing word ondersoek.
Vorige artikels:
- Several deaths and injuries from crash near Heidelberg
- N2 Heidelberg crash death toll rises to four after 13-year-old boy succumbs to injuries
- N2 death toll rises to 5: Family of 4 killed in crash, beloved Eljada resident among deceased
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’