RIVERSDAL NUUS - Die Hessequa brand- en reddingsdienste, in samewerking met Kindersorg, het onlangs in Riversdal ’n suksesvolle opvoedingsprogram aangebied.
Die doel was om plaaslike inwoners met belangrike kennis toe te rus om hulself, hul gesinne en hul huise teen brande te beskerm.
Die geleentheid het entoesiastiese deelname van gemeenskapslede in beide die inligtingsessie en praktiese demonstrasies uitgelok.
Een van die hoogtepunte van die program was toe twee brandbestryders, Draai Kannemeyer en Ronald Makaba, in ’n demonstrasie gewys het hoe om ’n oliepan wat brand veilig te blus.
’n Oliepan wat brand is ’n algemene en gevaarlike huishoudelike risiko.
Inwoners is geleer om sulke brande reg te hanteer, insluitend dat water nooit gebruik moet word nie, en dat die vlamme eerder veilig gesmoor moet word met ’n deksel of kombers terwyl die hittebron afgeskakel word.
Ander veiligheidswenke
- Hou vuurhoutjies en aanstekers buite kinders se bereik.
- Vermy die oorlaai van elektriese punte.
- Ontkoppel toestelle wanneer dit nie gebruik word nie.
- Skep ’n gesinsontsnappingsplan in geval van brand. Hierdie uitreikprogram vorm deel van die Hessequa brand- en reddingsdienste se voortgesette verbintenis om brandveiligheid binne ons gemeenskappe te bevorder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’