RIVERSDAL NUUS - Twee vroue van Riversdal en een van Albertinia was Maandagaand,
30 Junie, weer veilig terug op Suid-Afri-kaanse bodem nadat hulle amper twee weke langer as beplan in Israel, te midde van die 12-dag oorlog tussen Israel en Iran, vasgekeer was.
Karen Crafford, Engela Olivier en Retha Scheepers het aan Suid-Kaap Forum vertel van hul ondervinding tydens die toer, wat veel meer as net 'n pelgrimstog deur die Heilige Land was.
Hulle het onverhoeds in die konflik beland toe spanning tussen Israel en Iran ontaard het in grootskaalse lugaanvalle oor verskeie stede in Israel.
Alle lughawens is gesluit, wat dit vir buitelandse besoekers onmoontlik gemaak het om die land te verlaat.
Volgens die vroue was hulle in die bomskuiling saam met ander toeriste én die Nels by wie hulle in die hartjie van Jerusalem tuisgegaan het.
"Aan die begin was daar tye wat ons onseker gevoel het, maar gelukkig kon ons ons vertroue op die Here plaas, wat die heel beste vir ons en vir Sy volk ingedagte het.
Ons geloof en die saamwees met medegelowiges het ons sterk gehou.
Ons kon dit regkry om die onbekende omstandighede, saam met Hom, konstant in die positiewe te verander," vertel hulle.
"Die sirenes het gereeld, veral in die nag geloei. Ons kon deur ons kamervensters die missiele sien en in die bomskuiling die ontploffings hoor en die trillings voel."
Die vroue se toer was oorspronklik net vir die tydperk 7 tot 17 Junie, maar ten spyte van die onverwagte verlenging van hul tyd daar, was dit 'n wonderlike ervaring en selfs 'n voorreg wat hulle vir niks sou wou verruil nie.
"Israel en sy mense het 'n pro-lewe uitkyk! Hulle is doelgerig en vreesloos en kies om voluit te leef. Dit laat 'n mens nog meer veilig voel," sê Crafford.
Die tema van hul toer saam met Marthie Nel was, Arise and Shine, hulle was sewe vroue, ses Suid-Afrikaners en een Duitser.
Die toer het verskeie aktiwiteite ingesluit - onder andere vrywillige werk, kameelritte, 'n besoek aan die See van Galilea en swem in die Dooie See.
Hulle het die noorde en suide van die land besoek net voor die oorlog uitgebreek het.
Die vrywillige werk het onder meer ingesluit om te help met skoonmaak, skottelgoed was en soldate te bedien by Moshav Shuva, net 500 m vanaf die konflikgeteisterde Gaza-strook.
"Dit was 'n onbeskryflike voorreg en heeltemal buite ons ervaringsveld en tog is dit hierdie volk se alledaagse leefwêreld."
"Dit is aangrypend om te sien hoe effektief die Iron Dome-missielverdedigingstelsel werk - en dit is bonatuurlik hoe suksesvol hierdie nasie is in alles wat hulle aanpak en hoe hulle leef.
Daar moet beslis 'n Hoër Hand wees wat Sy oog oor hulle hou," sê hulle.
Die vroue is dankbaar om weer veilig tuis te wees, met baie getuienisse en ervarings wat hulle nooit sal vergeet nie.
Dit was 'n lewensveranderende drie weke in die Beloofde Land.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’