RIVERSDAL NUUS - 'n Vrou met 'n hart van goud is besig om jong kinders in Kwanokuthula onder haar vlerk te neem en rigting in hul lewens te gee.
Rebecca Johnson sê die sosiale euwels waaraan kinders uit mindergegoede woonbuurte blootgestel word, is een van die vernaamste redes waarom dié kinders vir al die verkeerde redes op straat beland.
"Hierdie weerlose jong kinders is nie gepantser teen geweld en seksuele teistering waaraan hulle daagliks blootgestel word nie.
"Meng daarby die misbruik van dwelms en drank en jy kry 'n toksiese omgewing waarin niks of niemand kan floreer nie. Verval en stelselmatige agteruitgang is hul voorland."
Juis daarom, sê Rebecca, het sy besluit om die jong klomp bymekaar te kry en 'n geestelike dansgroep op die been te bring.
"Die verskil wat dit in hul lewens binne 'n kort tydjie gemaak het, is merkwaardig. Skielik is daar vir hulle iets om aan vas te klou, iets wat weer vreugde in hul hartjies bring en, baie belangrik, hulle daarvan weerhou om by verkeerde aktiwiteite betrokke te raak. Ledigheid is mos maar die duiwel se oorkussing."
Die dansgroep, wat nog naamloos is, het juis verlede Saterdag op die dorpsplein oorkant die Hessequa-munisipale gebou inwoners op die maat van geestelike musiek met hul boeiende danspassies verras.
Vir omstanders wat gestop het om hulle dop te hou, moes die passie en vreugde wat uit hulle gestraal het terwyl hulle die liedere saamgesing het, aangrypend gewees het. Een van hulle was so meegevoer dat hy met trane in sy oë 'n aardige bedraggie in Rebecca se hande gedruk het.
Rebecca het aan Suid-Kaap Forum gesê sy het nog baie planne met die kinders. "'n Groot prioriteit is om binnekort 'n sopkombuis vir hulle te begin.
"Die nood is groot, meneer," was haar afskeidswoorde.
Dié geestelike dansgroep wat Rebecca Johnson (heel links) in Kwanokuthula op die been gebring het vir jong kinders wat doelloos op straat ronddwaal, het inwoners Saterdag op die dorpsplein met hul danspassies en gesingery meegevoer. Heel agter in die middel staan Dixie die Dino, die gelukbringer van Dickson Bistro, wat saam met die kinders gedans het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'