Update
HESSEQUA NUUS - Die tragiese verdrinkings van skoolkinders elders in die land vroeër die jaar het waterveiligheid opnuut in die kollig geplaas.
In 'n streek soos Hessequa waar heelwat damme, riviere en strande voorkom is dit uiters belangrik om te sorg dat kinders basiese watervaardighede aanleer.
Volgens 'n oud-sweminstrukteur van Stilbaai, Dawn van Zyl, laat ouers op binnelandse dorpe hul kinders op uitstappies na die kus gaan sonder om seker te maak hulle weet wat om te verwag: "Om in 'n rivier of die see te swem is heeltemal anders as toestande in 'n swembad."
Volgens Van Zyl vergeet skole soms om voor 'n uitstappie die NSRI, die plaaslike polisie en die betrokke dorp se dokters in kennis te stel sodat hulle gereed kan wees. Reëlings moet ook vooraf met die munisipaliteit getref word vir die teenwoordigheid van lewensredders.
Ander eenvoudige beginsels wat lewens kan red:
- Moenie alleen gaan swem nie. Neem altyd twee maats saam - een wat kan dophou en een wat hulp kan verleen of soek indien nodig;
- Neem 'n lang reddingstou saam;
- Bly weg van water as dit lyk of 'n donderstorm op pad is;
- Moenie kort na 'n bui reën in 'n rivier gaan swem nie. Goed soos takke spoel af en kan swemmers tref;
- As jy nie die bodem kan sien nie, bly uit die water;
- Maak seker van die gety se rigting voor jy in die water gaan. Kyk na watter kant toe opdrifsels vloei en moenie verwar word deur golwe nie. Die wind waai dalk in die teenoorgestelde rigting as wat die gety op daardie stadium beweeg;
- As die wind van die see se kant af waai, is daar 'n goeie kans vir bloublasies in die water;
- Moenie bloublasiesteke vryf nie. Kry onmiddellik mediese hulp indien asemnood of enige swelling na so 'n steek ervaar word;
- As iemand genoeg water gesluk het om bewusteloos te wees moet die water eers uitgekry word voor kunsmatige asemhaling toegepas word.
Lees 'n vorige artikel: Hou jou kind veilig in die water
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'