STILBAAI Nuus - Die Fynbos Apteek-gholfdag ten bate van liefdadigheid het Saterdag, 21 Februarie, 72 spelers gelok om in 'n vierbal-alliansiekompetisie mee te ding.
Spelers het voor afslaan die geleentheid gehad om 'n gratis suikertoets te ondergaan, waarna hulle die baan aangepak het. Op verskeie putjies het borge gereed gestaan met iets om te eet en 'n verfrissende drinkding, wat die dag se gees van samewerking en omgee verder versterk het.
Die kompetisie was straf en daar was min te kies tussen die voorste spanne. Die wenspan was Heinrich en Hester van Rensburg, saam met Tiaan Visagie en Marno Maré.
Kort op hulle hakke was Johann Beneke, Henza Haupt, Wessel Beneke en Branko Celica - slegs een punt agter die wenners.
Volgens Willie Delport van Fynbos Apteek kan hulle nie net stilsit en kyk hoe liefdadigheidsorganisasies sukkel om kop bo water te hou nie. Daarom bied die apteek jaarliks hierdie gholfdag aan om plaaslike instansies te ondersteun.
Vanjaar sal Jagersbosch Gemeenskapdienssentrum en Stilbaai Animal Protection baat vind by die opbrengs van die dag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’