Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Bekende fotograaf van Albertinia en vryskutskrywer vir Suid-Kaap Forum, Mariska Visagie is aangewys as die beste Familie- en Paartjiefotograaf in die Wes-Kaap.
Volgens Visagie het iemand haar in Oktober vanjaar aangepor om vir die MEA Business Awards 2020 in te skryf.
"Ek het regtig nie gedink ek sou iewers daarmee kom nie, want daar is soveel fotograwe wat beter as ek is," vertel sy.
Die verrassing was dus groot toe sy in November as een van die finaliste aangewys is en op 8 Desember as top fotograaf in haar kategorie.
Visagie se loopbaan het sewe jaar gelede met 'n gewone foto begin wat sy vir die Mossel Bay Advertiser ingeskryf het. "Daar het my liefde vir fotografie begin en gegroei. Ek het hard gewerk om te kom waar ek is en vandag is dit my brood en botter."
Sy sê dat sy soos enige beginnerfotograaf baie foute gemaak het, maar sy het daaruit geleer. "Omdat tegnologie voortdurend in rekenaars en kameras verander, moet jy bybly of agterbly," is haar raad aan voornemende fotograwe. "Jy moet net probeer om met elke foto te verbeter." Visagie behartig 'n klein kameraklub op Albertinia waar lede hul foto's maandeliks kan inskryf en sy hulle help om hul vernuf met die kamera te verbeter sodat hulle nie dieselfde foute as sy gemaak het nie.
In 2018 het sy foto's van 12 besigheidsvroue vir 'n kalender geneem om geld vir Albertinia-museum in te samel.
"Creation Photography is nie net my besigheid nie, dit is my passie - iets waarvoor ek lief is. My foto's moet 'n storie kan vertel," verduidelik sy. "Elke fotograaf is uniek in sy eie reg. Twee persone kan presies dieselfde toneel afneem, maar tog sal dit anders wees."
"Ek lewe my passie uit en dit is goed genoeg vir my. Ek is 'n doodgewone mens wat lief is vir foto's neem."
Mariska Visagie
Vorige artikel: Fotograaf kry erkenning
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'