RIVERSDAL NUUS - Eugene Saayman (11), 'n gr. 6-leerder aan Voorwaarts Primêr, het homself reeds op 'n baie jong ouderdom as een van Suid-Afrika se voorste jong atlete gevestig.
Die talentvolle Riversdaller is die nasionale kampioen in die seuns o.11-afdeling, met sy grootste krag in middelafstandatletiek, spesifiek die 1 200 m.
Eugene, wat die Wes-Kaap by die nasionale skoleatletiek-kampioenskappe verteenwoordig, het groot lof ontvang nadat hy die goue medalje in die 1 200 m by die Suid-Afrikaanse laerskole atletiekkampioenskappe verower het - 'n prestasie wat hy reeds meer as een keer behaal het.
Volgens plaaslike afrigters en sport-kenners word Eugene gereken as een van die beste o. 11-atlete in die land.
Hy staan uit vir sy uitsonderlike dissipline, uithouvermoë en wedloopintelligensie, eienskappe wat reeds op so 'n jong ouderdom selde gesien word.
Sy jongste prestasie is Maandag verder bevestig toe Voorwaarts Primêr die nasionale skolesportsterre se ranglys bekendgemaak het.
Daarin word Eugene amptelik as die vinnigste seuns o. 11-atleet in Suid-Afrika vir 2025 aangewys.
Eugene oefen daagliks ná skool by Parapark - 'n baan wat onder atlete bekend is en reeds in die verlede kampioene opgelewer het.
Die baan is vroeër as 'n ovaalbaan vir motorwedrenne gebruik.
Sy atletiekloopbaan het reeds op agtjarige ouderdom begin toe hy in landloop uitgeblink en sy eerste goue medalje in klubatletiek verwerf het.
Verlede jaar het hy tydens die SA kampioenskappe in Germiston weer goud gewen en het hy ook by die ASWD-byeenkoms in Middelburg as Suid-Afrika se nommer een middelafstandatleet uitgeblink.
Eugene sê hy "eet en leef atletiek", en droom daarvan om eendag 'n professionele atleet te word en internasionaal deel te neem.
Sy doel vir vanjaar is om weer as die land se nommereen o. 12-atleet in die
1 200 m gekroon te word - 'n doelwit wat hy reeds vroeg in die jaar tydens sy skool se kleuresport begin nastreef het.
Sy afrigter by Coastline-atletiekklub, Basil Abelse, glo Eugene se toekoms in atletiek is besonder belowend.
"Eugene oefen hard, beskik oor uitstekende selfdissipline en het 'n sterk wil om te presteer.
Ek is oortuig hy gaan dit ver bring met atletiek," sê Abelse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’