HEIDELBERG NUUS - Die JF Neumann Memorial Congregational Church het op 21 Maart ’n interessante program in hul historiese kerkie in Van Riebeeckstraat aangebied.
Dié kerkie, met sy geskiedenis, was die perfekte lokaal vir die geleentheid, aangesien die gemeente die gebou, wat in 1859 opgerig is, tydens apartheid as gevolg van die Groepsgebiedewet verloor het.
Die verrigtinge is deur sowat 50 aanwesiges bygewoon, waaronder lede van die Heidelberg Senior Burgerklub wat as spesiale gaste genooi was.
Verskeie instansies, waaronder die kerk se jeug, asook leerders van De Waalville en Kairos, het dit bygewoon en aan die verrigtinge deelgeneem.
Die verrigtinge is deur eerw. Morgan Jacobs met gebed en ’n Skriflesing uit Prediker 4:1-4 geopen.
Die agtergrond van waarom dié belangrike dag in die land se geskiedenis nog steeds vandag van toepassing is, is deur Vennito van Niekerk, opvoeder en gemeenskapsaktivis, aan die aanwesiges, maar veral aan die jeugdiges voorgehou.
Voordrag van gedigte, onder andere deur Bernard Fielies (Heidelberg, Kaap) en ds. André Boezak se Die Smartie Boks en G’n Decent Gebed, was ook deel van die program.
Sprekers wat beslis kleur aan die program gegee het en almal met diepe insig en ’n traan in die oog gelaat het, was Lukas Situkutezi en Alex Marshall. Situkutezi, alombekend as Lukas Thom, het die verhaal van sy pa se pasboek of “dompas” hartroerend vertel.
Dié kosbare dokument is steeds in sy besit.
Marshall het op sy beurt passievol die verhaal van die oorspronklike inwoners van die Hessequa-gebied vertel.
Dit was beslis ’n interessante brokkie geskiedenis, veral vir die jeugdiges teenwoordig.
Die item wat sekerlik die hoogtepunt van die program was, was toe leerders van De Waalville Primêr se prefekteraad, asook lede van Kairos Sekondêr se VRL, onderhoude gevoer het met lede van die senior klub sowel as met Situkutezi.
Daar was baie emosionele oomblikke soos die bejaardes eerlik op die leerders se vrae gereageer het.
Die program is met ’n ligte middagete en gesellige samesyn afgesluit.
Ter afsluiting het Annelene Hartnick, programkoördineerder, al die aanwesiges en deelnemers bedank vir hul bydrae tot die groot sukses van die program.
Sy het ook die hoop uitgespreek dat hulle in die toekoms meer gereeld sulke programme sal wil aanbied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’