STILBAAI NUUS - Onwettige dwelmhandel is 'n gevoelige slag toegedien met die konfiskering van R252 miljoen se kokaïne wat deur die Stilbaai hawe gekom het.
Vrydag 19 Julie 2024 het Stilbaai polisie ongeveer 18:50 inligting ontvang van verdagte aktiwiteite by die Stilbaai hawe.
Oppad soontoe het hulle die verdagte voertuig, 'n Toyota Pajero, met 'n rubberboot opgemerk en in die daaropvolgende jaagtog het hulle die voertuig by die Jongensfontein pad afgetrek.
Die twee insittendes het die bosse ingehardloop, maar hulle vryheid was van korte duur, want hulle is kort daarna by 'n plaaslike akkommodasie fasiliteit gearresteer.
Met die deursoek van die rubberboot het die polisielede afgekom op 14 sakke met 400 blokke kokaïne.
Die verdagtes, 'n 48-jarige man van Gauteng en 39-jarige man van Russiese herkoms, is aangekla vir handel in dwelms en hulle bly in aanhouding tot en met hulle in die hof verskyn het.
Die saak is oorgedra na die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade vir verdere ondersoek.
Die Provinsiale Kommissaris van die Wes-Kaap, Luitenant-Generaal (Adv) Thembisile Patekile, het net lof vir die polisielede wat onmiddellik die inligting opgevolg het en dus verseker het dat hierdie dwelms van die strate af verwyder is.
Hierdie arrestasies en konfiskering is in lyn met die fokus van die polisie in die Wes-Kaap om onwettige dwelmhandel uit te roei en om gemeenskappe te bevry van dwelms.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’