HESSEQUA NUUS - Werkskepping of -verliese hang af van verskeie faktore, waarvan droogte die belangrikste is.
Die goeie nuus is dat die werkloosheidsyfer in die land in die laaste kwartaal van 2018 met 0.4 persentasiepunte tot 27,1% gedaal het.
Die aantal mense wat werk, het met 149 000 toegeneem tot 16,5 miljoen, terwyl die aantal werklose mense met 70 000 afgeneem tot 6,1 miljoen in vergelyking met die derde kwartaal van 2018. Maar wat dryf werksverliese?
Munisipaliteite
Die ekonomiese aktiwiteit binne munisipale grense weerspieël die ontwikkeling en lewenstandaarde van gemeenskappe. Al kan munisipaliteite nie belasting verhoog of verminder om ekonomiese aktiwiteite te stimuleer nie, kan plaaslike owerhede bydra tot die ekonomie deur onder meer goedere en dienste aan te koop, werk te skep deur uitgebreide openbare werkprogramme en om 'n gunstige klimaat vir klein sakeondernemings te skep.
Die gemeenskap se vermoë om vir dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie en rommelverwydering te betaal, hang daarvan af of hulle 'n inkomste uit die ekonomiese aktiwiteite in die dorp kry. Wanneer die ekonomie sukkel, kan die gemeenskap nie vir hierdie dienste betaal nie, wat tot 'n verlies aan inkomste vir die munisipaliteit lei.
"Vanuit hierdie beginsels is dit kardinaal van belang dat Hessequa 'n ontwikkelingsvriendelike kultuur kweek wat ekonomiese groei en ontwikkeling binne die perke van omgewingsbewaring verwelkom," sê Susan Geldenhuys, munisipale woordvoerder.
"Soos lewenskostes styg, sal bedryfskostes ook toeneem en indien die belastingsbasis van munisipaliteite nie uitbrei nie, sal die huidige inwoners die swaar las van geen groei moet dra."
Hessequa gaan gebuk onder 'n uitgerekte droogte. Ekstreme weerstoestande het grondwatervlakke van natuurlike fonteine, strome, ondergrondse water en damme tot so 'n mate beïnvloed dat selfs drinkwater beperk is. Die droogte het ook 'n belangrike uitwerking op die kort- en mediumtermyn finansiële en ekonomiese volhoubaarheid van plaaslike besture.
Landbou
Die landboubedryf is baie wisselvallig omdat dit deur verskillende faktore beïnvloed word. Dit is hoofsaaklik daaraan toe te skryf dat arbeid in die landbousektor nie voltyds is nie, maar afhang van die oes wat die jaar oplewer. Wanneer minder grond bewerk word omdat minder water beskikbaar is, is daar minder werksgeleenthede. Wanneer daar water is en die ekonomiese toestande gunstig is en boere meer aanplant, skep dit werksgeleenthede. Die dalende waarde van die Rand het insetkoste soos brandstof en bemesting verhoog en die sektor verder onder druk geplaas wat baie boere genoop het om werkers af te lê.
Although employment figures increased a little during the last quarter of 2018, the ongoing drought still has a major influence on job creation in towns and in agriculture. When agriculture suffers job losses as a result of drought, the jobless move to towns, where they rely heavily on infrastructure and services.
'We bring you the latest Hessequa news'