WITSAND NUUS - ’n Driejarige meisie het Vrydagmiddag, 27 Februarie, sowat 20 km stroomop by die monding van die Breederivier verdrink.
Volgens ’n mediaverklaring van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is hul Witsand-stasie omstreeks 14:50 geaktiveer na berigte van ’n moontlike verdrinking.
Reddingspersoneel van NSRI Stasie 33 is na die basis waar die reddingsvaartuig, JetRIB, te water gelaat is.
Mediese nooddienste en die polisie is ook ontbied.
Met aankoms op die toneel het NSRI-spanlede plaaslike inwoners aangetref wat reeds kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op die kind toegepas het.
NSRI-medici het by die pogings aangesluit, waarna paramedici van nooddienste oorgeneem het.
Ten spyte van pogings om die kind se lewe te red, is sy op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Die liggaam is in die sorg van die polisie en die departement van forensiese patologie geplaas.
’n Dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek is geopen.
Volgens voorlopige inligting is die kind leweloos deur familielede in die water aangetref. Die familie is glo van Malawi afkomstig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’