RIVERSDAL NUUS - Onwettige drankverkope en dwelms bly vir die polisie 'n groot kopseer op Riversdal.
Só het die stasiebevelvoerder, lt kol Dalecia Isaacs, tydens 'n vergadering met die gemeenskapspolisieforum (GPF) in haar terugvoering gesê.
Wat kommerwekkend is, vertel Isaacs, is dat minderjarige kinders maklike toegang tot drank en dwelms kry. "Daar is ouers met geld en hulle is bewus daarvan dat hul minderjarige kinders laatnag by smokkelhuise uithang.
"Daar is drie groepe wat onder mekaar baklei om die gebiede, wat as dwelmafsetpunte dien, te beheer. Maar ons wil die handelaars vastrek. Dis ons grootste prioriteit."
Isaacs sê die groot sosiale wanbalans speel in die hande van drank- en dwelmbase en maak dit vir hulle maklik om hierdie onwettige en kriminele bedrywighede daagliks te bedryf.
"Ons het die afgelope ses maande nog nie enige groot optredes, soos soektogte, geloods of lasbriewe uitgereik nie, maar ons is besig om dit nou aan te spreek."
Isaacs reken 'n oplossing is om 'n vaste drankoffisier by die drankkantoor aan te stel, want dit sal definitief 'n "groot verbetering" meebring om onwettige drankverkope hok te slaan.
Volgens die nuutste misdaadstatistieke is daar 'n toename in huisinbrake en is die afgelope tyd agt of nege sulke gevalle aangemeld.
"Die getal aanrandings het ook effens gestyg, maar dis in die stadium onder beheer. Daar was ook twee moorde in Februarie, albei drankverwant.
"Bedrog, en spesifiek internetbedrog, is nog 'n bron van kommer vir die polisie. Dis veral op Facebook waar weerlose mense geteiken word.
"Bedrog met aanlynverkope neem steeds toe. En die kloning van kredietkaarte bly steeds 'n probleem."
Isaacs sê hulle het aansoek gedoen by die distrikskantoor en die plaaslike munisipaliteit vir hulp om ekstra veiligheidskameras aan te skaf.
"Daar is reeds verskeie kameras op strategiese plekke aangebring en dit vergemaklik die polisie se taak. Meer kameras is egter nodig om misdaad te bekamp."
Isaacs het die waardevolle rol beklemtoon wat buurtwagte speel in misdaadbekamping. "Hierdie reserviste en buurtwagte versterk ons hande.
Hulle is ons oë en ore en dié mense is almal vrywilligers wat sonder enige betaling help om skelms vas te trek.
"Die platteland gaan nie nou bykomende polisielede bykry nie. Daarom speel reserviste so 'n belangrike rol. Ons kort meer sulke vrywilligers wat bereid is om die polisie te ondersteun."
Van die 11 polisiestasies in Hessequa het Riversdal die meeste reserviste. Veertig is al gewerf.
Isaacs sê die vrywilligers kry op Dinsdag- en Donderdagaande opleiding oor hoe om die toerusting wat aan hulle beskikbaar gestel word te gebruik.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'