STILBAAI NUUS - Pierre en Gregory Minnaar van Bosbokduin in Stilbaai het Donderdag 6 Julie sestig jaar gelede trou aan mekaar beloof en hulle is nog steeds dolgelukkig.
Pierre vertel dat hy op universiteit die eerstejaartjie raakgesien het en hy het dadelik geweet sy is die een vir hom. Vol bravade het hy ook vir sy vriende uitgewys dat daai meisie sy trouvrou is.
Gregory het natuurlik op daardie stadium nie geweet van sy planne nie en dis eers 'n jaar later dat hulle bymekaar uitgekom het. Sy het op daardie stadium 'n kêrel gehad, maar hy kry toe pampoentjies en Pierre vat sy kans terwyl die kêrel weg is.
Vir vier jaar het hulle gekuier en is hulle uiteindelik op 6 Julie 1963 getroud.
Albei van hulle was vir 15 jaar in die onderwys, meestal in die Delmas-omgewing, en toe gaan boer Pierre vir die volgende 26 jaar.
Op 'n dag het hulle net besluit dat hulle genoeg gehad het. Vyf vriende en kennisse is in die omgewing vermoor en asof dit nie genoeg was nie word sy stalvoorman ook vermoor.
Die plase is verkoop en hulle het in 2000 die vakansiehuis, wat Pierre in 1991 in Bosbokduin gebou het, hul permanente tuiste gemaak.
Melize, die egpaar se oudste dogter, haar man, twee seuns en 'n dogter woon in Duitsland waar Melize in die opvoedkunde betrokke is.
Hulle tweede kind, Anina, het hart-probleme gehad en sy is op die strand oorlede toe sy maar net vyftien was. Dit was vir hulle 'n geweldige slag.
Gregory, haar man en die tweeling woon in Engeland waar sy as pediater 'n konsultant is.
Hulle jongste, Braam, is 'n tandarts in Nederland en hy en sy vrou het twee kinders. Braam sou gaan boer, maar sy ouers het besluit dis te gevaarlik.
Die egpaar op hulle troudag 6 Julie 1963.
Pierre het na vier dogters handdoek ingegooi. 'n Seun is vir hom nie beskore nie, maar toe word die nuwe Bloutrein bekendgestel en die gesin ry met die trein Kaap toe. Dis seker nie nodig om te sê hoekom Braam se bynaam Blue Train is nie.
Pierre en Gregory het vir 16 jaar elke winter in Europa by die kinders gaan kuier, 'n maand by elke kind. Ses jaar gelede het hulle egter besluit hulle raak nou te oud vir die lang ritte, maar gelukkig kom kuier die kinders elke jaar in Desember vir hulle.
Pierre som op deur te sê dat alles begin met liefde. Hou aan daarmee en dan kom genade by.
Gregory sê dat hulle verskil oor baie goedjies, maar oor die belangrike en groot dinge stem hulle saam. Vir haar is geloof en genade asook die kinders baie belangrik. Tong in die kies sê Gregory dat daar in die tuin vir haar 'n standbeeld vir deursettingsvermoë opgerig moet word.
Die egpaar spandeer hulle huweliks-herdenking by Warmwaterberg waar hulle die saligheid van die warmwater geniet terwyl hulle droom van die lekker tye saam.
Nog dolgelukkig na sestig jaar se getroude lewe
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'