RIVERSDAL NUUS - 'n Boorling van Riversdal is onlangs as nuwe bestuurder van Riversdal- en Heidelberg-ambulansdienste aangestel.
Dolene Sharinda Prins kom in die plek van Donavan Newman wat 'n pos aan die Weskus aanvaar het.
Sy het reeds in 2000 as vrywilliger by ambulansdienste betrokke geraak, maar is in 2015 permanent aangestel.
Dus, ná 25 jaar in dié bedryf, bring sy 'n meer as net 'n handvol kennis en ervaring saam met haar.
Dolene is in Riversdal gebore en het in 2000 aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêr gematrikuleer. Ná skool het sy by Suid-Kaap Kollege 'n kursus in skoonheidskunde voltooi.
Maar in 2011 het die wêreld van ambulansdienste haar belangstelling aangegryp en skuif sy na Tygerberg in Bellville waar sy 'n kursus in basiese lewensondersteuning by die Tygerbergse Kollege se afdeling vir nooddiensversorging volg.
Sy volg dit in 2017 op met 'n kursus in intermediêre lewensondersteuning by dieselfe kollege voordat sy haar loopbaan by Riversdal-ambulansdienste voortsit.
Ná haar permanenete aanstelling het sy hoofsaaklik "in die veld" by, onder andere, ongelukstonele gewerk. Met haar bevordering het sy uit haar operasionele omgewing na 'n bestuurspos geskuif waar sy nou meer tyd op kantoor deurbring.
Dolene sê dis maar 'n aanpassing om aan haar bestuursverpligtinge gewoond te raak, maar "sy vat maar elke dag soos dit kom. Daar is talle bestuursuitdagings, maar gelukkig is ek 'n mens-mens en sal ek gou my voete vind. In ons omgewing is daar gelukkig nie tyd vir voete sleep nie."
In Riversdal bestuur sy 3 mense en in Heidelberg 7.
"Ons is effe onderbeman, maar ons moet die beste maak daarvan. Ek is doodseker ons gaan die personeeltekort so gou moontlik aanspreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’