RIVERSDAL NUUS - ‘n Trotse markpleintradisie in Riversdal het vanoggend weer herlewe toe sowat 20 uitstallers hul stalletjies met ware op die dorpsplein oorkant die Hessequa-munisipaliteit begin opslaan het.
Die kultuur van dorpsamesyn is op Saterdag 31 Augustus op die markplein - waar die Makadas-treinenjin op ‘n ysterspoor na nêrens tjoef-tjoef - herontdek.
Lenichia Willemse, die mediabeampte van Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit, het aan Suid-Kaap Forum gesê die Makadas-markdag is hopelik 'n terugkeer na ‘n trotse markpleintradisie.
"Ons wil die gemeenskap bemagtig deur mense die geleentheid te bied om hul eie besighede te begin en bestaande kleinsake te laat groei. Hierdie is dalk 'n beskeie begin, maar met die ondersteuning van inwoners kan dit groei en ontwikkel in die ideale platform vir kleinsakeienaars om 'n voet in die deur te kry en hul besighede nuwe stukrag te gee."
Die bekroonde akteur en regisseur, Christo Davids, ‘n Hessequa-boorling, het ook gesig kom wys en saam met foto's by elkeen van die sowat 20 stalletjies geposeer. Hy is veral bekend om sy rol as die geliefde karakter, Errol, in SABC2 se voormalige sepie 7de Laan.
Daar is deurentyd heerlike musiek en 'n groot verskeidenheid kosstalletjies, handgeskepte gebruiksprodukte en gesigroom. Daar is letterlik iets vir almal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’