HESSEQUA NUUS - Rig 'n kabelkarretjie op tot by Sleeping Beauty wat toerisme sal aanwakker. Bou ons eie kragstasie en 'n ysskaatsbaan vir die jong klomp.
En knap Stilbaai-hawe op en omskep dit in 'n ordentlike trekpleister vir inwoners en besoekers.
Dit was enkele van die hordes voorstelle wat inwoners van Hessequa ingestuur het na aanleiding van Suid-Kaap Forum se weeklikse vraag op Facebook: wat kan gedoen word om Hessequa 'n meer opwindende plek vir sy inwoners - en natuurlik vir besoekers - te maak?
Van die voorstelle het meriete, terwyl ander nie prakties haalbaar is nie en 'n klein fortuin gaan kos.
Dat daar ook op tone getrap gaan word met van die voorstelle is gewis. Dit sal beslis verskillende emosies aanwakker en die grense tussen goed en kwaad toets.
Kyk mens na praktiese voorstelle wat die lewensgehalte van Hessequa se inwoners hand-oor-hand kan verbeter en die plaaslike ekonomie 'n broodnodige hupstoot sal gee, kan die voorstel dat daar 'n volhoubare ambagskool deur die munisipaliteit bedryf kan word, ernstig oorweeg word. Die leser skryf daar is genoeg bekwame ambagsmense in Riversdal, byvoorbeeld, wat met opleiding kan help.
Dit kan die werklose jeug, wat net vir kwaadgeld rondsit, oneindig baie baat en uit 'n spiraal van armoede en misdaad lig.
Wat van 'n fabriek?
Nog een sê Hessequa kort 'n werkbare industriële gebied. "Fabrieke wat produkte en goedere kan vervaardig wat nou ten duurste vanuit Kaapstad of Port Elizabeth vervoer moet word. Produkte, soos skoonmaakmiddels, verpakkingsmateriaal of selfs 'n bottelfabriek, produkte wat daagliks gebruik word.
"Maar dan moet die hele Hessequa dit hartlik ondersteun," voeg die persoon by.
Nog 'n voorstel wat aandag verdien, is om Stilbaai-hawe in die sorg van Hessequa-munisipaliteit oor te laat en dit in 'n toeriste-trekpleister te omskep.
Iets soos die Kaapse Waterfront, maar op veel kleiner skaal soos Knysna s'n. Daar is natuurlik allerhande praktiese kopsere wat só 'n besluit kan beïnvloed of selfs vroegtydig kan kelder, waarvan 'n enorme kapitaalinspuiting van etlike honderde miljoen rande seker een is.
Maar dink net hoeveel werksgeleenthede dit kan skep en die ekonomiese oplewing wat dit in die streek kan veroorsaak. Onnodig om te sê is dat dié Waterfront besoekers en toeriste soos 'n magneet sal aantrek.
'n Winkelkompleks kan werk
"Ons eie mall," is die pleidooi van nog 'n leser. Nou ja, soos meeste inwoners weet is dit 'n uiters sensitiewe kwessie. 'n Taai toffie wat, as dit te hard gelek word, 'n lelike nasmaak in jou mond kan laat.
Toe daar jare gelede 'n storie die rondte gedoen het van 'n eie winkelkompleks vir Riversdal, daar naby die saagmeule net buite die dorp met 'n bekende supermarkgroep as 'n moontlik ankerhuurder, het dit by 'n storie gebly.
Indien daar enige waarheid in gesteek het, moes iemand 'n stokkie daarvoor gesteek het. Of dalk was bevind dat dit nie prakties haalbaar was nie. Hoe dit ook al sy - ten laaste het dit 'n stille dood gesterf.
Daar was ook voorstelle vir 'n eie ysskaatsbaan wat die jonger garde gelukkig sou hou, en 'n bioskoop of selfs inryfliek soos dié van destyds.
Bekostigbare wonings, te huur of te koop vir veral jongmense en vir inwoners in die lae- en middelinkomstegroepe is ook 'n groot versugting. Ook vir bejaardes.
Red ons stasiegebou
Iets wat in 'n groot bate vir Riversdal omskep kan word, is om die ou treinstasie weer "oop te maak" en in iets werkbaar te ontwikkel. Maar dan moet 'n nasionale staatsdepartement, soos 'n stotterende Transnet, betrek word.
Die Forum het Transnet al verskeie keer hieroor gekontak en uiteindelik wil dit voorkom of die Wes-Kaapse provinsiale regering ook by dié sage betrokke gaan raak.
Vir Albertinia was daar 'n versoek vir 'n munisipale swembad en 'n eie ovaalbaan om motorsport weer aan te bied, asook 'n eie kantoor vir binnelandse sake.
'n Vurige pleidooi word gelewer dat rompslomp (red tape) uitgeskakel moet word. Dit kelder vooruitgang en smoor inisiatief, is van die kommentaar.
Die voorstel "dat die pragtige wandelpaaie weer oopgemaak en beveilig word" verdien beslis meer aandag. Naas Stilbaai se see is wandelpaaie of -roetes een van Hessequa se groot aantrekkingskragte, maar dit het grootliks in 'n plek soos Heidelberg in onbruik verval met feitlik geen onderhoud daaraan nie.
Skoon drinkwater, asseblief
'n Laaste versoek is vir skoon drinkwater vir Stilbaai. En Heidelberg. Dis nou 'n geval van "stille waters, diepe grond." Dis makliker gesê as gedaan, want weereens is daar verskeie eksterne faktore wat hier 'n bepalende rol speel.
Nou klink die kabelkarretjie na Sleeping Beauty skielik glad nie so vergesog nie.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'