Gallery
RIVERSDAL NUUS - Oor die dertig plaaslike entrepreneurs span saam om Vrydag 13 Desember feesbetowering by die eerste Kersfeesmark in jare op die dorpsplein te skep.
Talle gaan spog met hul kunsvlyttalent, brei, hekel en skrynwerkvernuf en ander handvaardighede, onder die vaandel van hul vindingryke handelsname.
Die resultaat is 'n verskeidenheid produkte: onder meer pragtige dierepoppe, wasgoedpennetjiesakke en kleurryke kopbande en omgewingsvriendelike inkopiesakke en komplementerende bybehore.
Daar is van plekmatjies tot skaakborde en 3D-ontwerpe op bekers asook klerasie, juwele - ringe, oorbelle, hangertjies én sonbrille.
Mense wat bekende handelsname vertrou, sal kan kies uit 'n verskeidenheid geskenkpakke wat wissel van skoonheids- en selfsorgprodukte tot slaaisouse en speserye in alle smake en geure.
Twee manne van Huis Wallace Anderson, Anton Swanepoel en Danie du Toit, span houtwerk, verfkuns en gesegdes in om innoverende tuistooisels te skep.
En, terwyl jy snuffel, gaan Oswald Khana (DJ Ozzy) deurentyd vrolike musiek speel en die gees op die plaaslike radiostasie Hessequa FM regstreeks uitsaai.
Dis 'n Makadasfees!
Handgemaakte handsakke en komplementerende bybehore deur Lizelle Wicomb.
* Môre vertel Suid-Kaap Forum wat alles te ete en drinke is. Jy hoef nie 'n voorskoot aan te trek nie!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’