Gallery
RIVERSDAL NUUS - En toe’s dit Vrydag: die dertiende!
Die weerdiens voorspel wel sporadiese reën en ‘n lastige wind vandag, maar kry tog maar jou gaai uit die kooi, sit jou voet op die vloer, trap die koos langs die bed mis, koes vir die deurkosyn en draf rats onderdeur ‘n leer.
Vergeet van bygelowe. Gryp die dag en onthou: dit is tyd vir die eerste Kersfeesmark in jare op die Makadas-plein.
Oor die dertig plaaslike entrepreneurs span saam om feesbetowering te skep.
‘n Groot deel van dié mark is tuisgemaak. Jy hoef nie vanaand te kook nie, want ‘n klomp kokke gaan tussen vieruur vanmiddag en negeuur vanaand vir jou op gasstofies bak en oor kole braai.
“By die Makadasmark, waar vars geure en heerlike kosse bymekaarkom, word voedselhigiëne met die hoogste prioriteit hanteer. Alle stalletjie-eienaars verstaan die belangrikheid van veilige en skoon voedselvoorbereiding om besoekers en gemeenskapslede se gesondheid te beskerm. Elke voedselverkoper by die mark beskik oor die nodige gesondheids- en higiënesertifikate, soos vereis deur plaaslike owerhede. Hierdie sertifikate bevestig dat voedselprodukte volgens wetlike standaarde voorberei en hanteer word,” verseker Lenichia Willemse, die organiseerder.
Worsbroodjies, kerrievetkoek, varkworsie-warmbrakke en ‘n boereworsbraai gaan by Boet & Sus se koswaentjie vlamvat.
FOTOGALERY: Dis ‘n Vrydagfees - óp die dertiende
O ja: moenie van Pop – met haar voortreflike roosterkoeke en smaaklike vulsels – vergeet nie!
En wat is ‘n vreugdekermis sónder pannekoek en égte, tuisgemaakte gemmerbier? Jy kry dit hier.
Maak dan sommer ook jou feesspens vol: met fyn tuisgebak, pasteie, sout- en soettertjies, laag-grootkoeke en happie-kleinkoekies deur Mina’s Kitchen, Grace Bakery en E3R Catering. Lesley-Anne Pedro bring gesonde droëvrugte en neute mark toe. Erna Cordier spog met haar reënboogverpakte versnaperinge. Die Biltong Zone se biltong en droëwors is van die beste gehalte en Wonderland se klam vrugtekoeke in alle vorms en groottes sal jou Kersfeesmaal ekstra spesiaal maak.
Kry sommer ook speserye en slaaisouse by die stalletjie Boet Braai @ Riversdal om jou eie braai tydens die feestyd te geur.
Soveel keuses!
Verpoos 'n oomblik en laat die bekende kunstenaar Nikita Joubert van Rainbow Shimmer jou gesig in 'n kunswerk omtower.
Let’s Play for Fun slaan 'n springkasteel op die grasperk langs die Makadas-lokomotief op en Oswald Khana (DJ Ozzy) gaan lekker musiek maak en die plaaslike radiostasie Hessequa FM regsreeks aanlyn stroom.
Laat die feestyd op die Makadas-dorpsplein begin - en gryp Nuwejaar 2025!
* Loer gerus na die smulgalery hierby en word lushonger...
Dis 'n vroeë Kersfees by die Makadas-feesmark op die dorpsplein in Riversdal, waar oor die dertig plaaslike entrepreneurs vandag feesbetowering gaan skep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’