RIVERSDAL NUUS - Knyp jou beursie toe tot Vrydag 13 Desember, want dan is dit tyd vir die eerste Kersfeesmark in jare op die dorpsplein.
Oor die dertig plaaslike entrepreneurs stal dan hul talent, vernuf en produkte ten toon.
“Dorpenaars moenie ‘n straatfees soos in die verlede, toe strate afgesper is en die winkels tot laat in die aand oopgebly het, verwag nie. Dit gaan vanjaar om ‘n platform vir ons plaaslike entrepreneurs te skep,” sê Lenichia Willemse, die organiseerder.
“Die doel is om ‘n veilige, verligte ruimte te skep waar mense net lekker saam kan snuffel, kuier en inkopies doen.”
Sy verseker dat kragpunte vir stalletjiehouers, beligting en sekuriteit vir die mark se feesgangers prioriteit geniet en reeds in plek is.
Die entrepreneurs spog trots met hul vindingrykheid. Daarom hoef jy nie van winkel tot winkel te drentel om geskenke uit te snuffel nie.
Heelwat aandag word vanjaar aan kindervriendelikheid, tuis- en handgemaakte vaardighede, veeldoelige kunsvlytprodukte en selfs 'n paar betroubare handelsname bestee.
Daar gaan ‘n verskeidenheid eet- en drinkgoed wees en ‘n uiteenlopende reeks gehalte-produkte wat geskikte geskenke teen billike pryse waarborg.
Laat die feestyd op die Makadas-dorpsplein begin.
Oswald Khana (DJ Ozzy) gaan deurentyd lekker musiek maak en die plaaslike radiostasie Hessequa FM gaan regstreeks daarvandaan uitsaai.
Suid-Kaap Forum sal die res van die week vertel van die opwindende verrassings wat op dorpenaars wag ...
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’