ALBERTINIA NUUS - 'n Inwoner van dié dorp voel die gemeenskap se reg om kommentaar te lewer is vir 11 dae geskend weens die plasing van 'n advertensie op die munisipale konsepbegroting (Suid-Kaap Forum, 2 April), waarin daar geen opsie vir ongeletterde inwoners in hierdie tydperk gegee word om hul insette te lewer nie.
Fred Carelse het in 'n sterk bewoorde brief aan die koerant sy misnoeë te kenne gegee met die tydsberekening van die advertensie en hy bevraagteken die wetlikheid daarvan.
Hy is van mening dat die munisipaliteit in gedagte moes gehou het dat, diegene wat graag met hulp kommentaar wou lewer, nie tydens hierdie tydperk van algehele inperking die kans gegun kan word nie.
Volgens 'n omsendbrief wat onder meer op die munisipale webtuiste, www.hessequa.gov.za en Facebook-blad verskyn, het alle inwoners geleentheid vir kommentare op die konsepbegroting tot en met 30 April, wat skriftelik per e-pos aan die munisipale bestuurder gestuur kan word by info@hessequa.gov.za.
"Persone wie nie kan lees of skryf nie, sal na die inperkingstyd die munisipale kantore kan besoek vir ondersteuning."
'n Video hieroor is ook beskikbaar by:
https://drive.google.com/file/d/12hlg4Tczef-8xc3djfcLuipzH35IHaLU/view?usp=drivesdk
Die munisipaliteit wou nie verder kommentaar hieroor lewer nie.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'