RIVERSDAL NUUS - Ek staan in USave en wag my beurt af vir die kassiere. Uit nuuskierigheid kyk ek rond en sien pakkies groentesaad in die waentjie van die man wat agter my staan.
Ons raak aan die gesels en die man sê dat hy graag tuinmaak.
Ek vra hom vir sy naam en sy selnommer en só ontmoet ek vir Nicolaas Stephanus, ook bekend as Nick of Stepho.
Die man wat die mooiste Afrikaans praat.
Lewensverhaal
Ek gaan kuier by sy huis en bewonder sy groentetuin. Nicolaas vertel my sy lewensverhaal. Hy het grootgeword op Blink Bonnee en later op Platkop.
Sy pa het hom leer plant.
Water is met 'n kanaaltjie uit die sloot na hul tuin aangelê. In hierdie tuin het sy pa die mooiste wortels geplant, maar Nicolaas sê sy pampoene was groter as sy pa s'n.
Sy pa het by die koöperasie gewerk. Nicolaas het Laerskool Kruisrivier bygewoon en is later na die St. Andrews skool.
Sy hoërskoolloopbaan het hy by Gerrit du Plessis Senior Sekondêr voltooi.
Ná skool sukkel hy om plek te kry vir verdere opleiding aangesien al die kolleges vol was.
Hy kry wel plek by Bellville Onderwys-kollege wat toe net in aanbou was.
Daar doen hy sy onderwysopleiding, maar beleef ook die 1976-onluste wat 'n onderbreking in sy studies tot gevolg gehad het.
Ná voltooiing van sy onderwysopleiding het hy by Hoërskool Scotsdene onderwys gegee.
Daar ontmoet hy sy vrou en hulle is in 1977 getroud.
Hulle keer terug na Riversdal en hy gee onderrig by Laerskool Voorwaarts waar hy vir 41 jaar Afrikaans doseer.
Hy het die kinders afgerig vir die jaarlikse eisteddfod en sy leerders het altyd puik presteer.
Nicolaas tree af in 2018 en geniet nou tuinmaak en hengel.
Hy was lief vir skoolhou en sy leerders en sê hy was streng, maar die kinders was lief vir hom.
'n Oudleerling getuig dat Nicolaas die leerlinge respek en dissipline geleer het. Soos ons op sy kombuisstoep sit en gesels groet elkeen wat verbystap hom.
Hy koop sy huis in Van Riebeeckstraat 109 in 1981 en só begin sy tuinmaak-verhaal.
Hy plant verskeie soorte: pampoen, patats, tamaties en vele ander groente.
Na jare se ondervinding weet hy wat om wanneer te plant en werk hy saam met die seisoene.
Nick sê hy oes te veel vir eie gebruik en deel graag uit aan die gemeenskap.
Inspirasie
Nicolaas is lief vir plante en mense en hy gaan sy kennis gebruik om mense te inspireer om blom- en groentetuine te vestig.
Die idee is om tweeweekliks byeen te kom om so die wonder van tuinmaak op 'n gesellige wyse te ontdek.
Vir meer inligting kan hy gekontak word by 078 685 9166.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’