RIVERSDAL NUUS - Dorpenaars kan dié naweek erge hitte verwag wat met ‘n lentetong tot aan die veertig grade lek.
‘n Mens moet verkieslik tussen elfuur en drieuur binnenshuis bly en buitemuurse bedrywighede vermy. Moenie onnodige uitputtende aktiwiteite aandurf nie.
Maar ons wil immers graag die heerlike lenteweer geniet.
Bly net koel.
Hier is ‘n paar nuttige wenke:
- Drink baie water, elektrolietryke drankies of klapperwater.
- Dra ligte, los klere, koel serpe en bandanas van katoen en linne.
- Hou ‘n sproeibotteltjie met water byderhand en spuit gereeld op jou polse, nek en voorkop.
- Moenie onnodig verkoelingstoestelle, waaiers, lugversorgers of verdampingsverkoelers gebruik nie. Maak eerder jou huis se deure en vensters vroegoggend oop, laat die koue lug deur die vertrekke stroom en maak dan al die deure en vensters toe. Jou huis sal koel bly.
- Spring af en toe onder ‘n koue stort in.
Beveilig jouself en jou geliefdes, veral kwesbare kinders en weerlose bejaardes met dié riglyne wanneer julle buitenhuis is:
- Wees ingelig, hou weervoorspellings dop en let op raadgewende hittegolfwaarskuwings.
- Beskerm jou vel. Gebruik SPF 30+ sonskerm en lipsalf en dra 'n sonbril, pet of 'n hoed met 'n wye flap.
- Vermy omgewings wat hitte vasvang - soos motors, skure of klein, geslote ruimtes.
- Skuil in die skadu van koeltebome.
- Geniet die koeler aand-atmosfeer in die buitelug.
- Moniteer jou liggaamstemperatuur. Let op hitteverwante siektesimptome - soos duiseligheid, naarheid, hoofpyn en moegheid.
Gelukkig kan Riversdallers nou weer by die Dibiki-toeristeoord se pragtige, opgradeerde swembad in die skadu van koeltebome en onder sonsambrele lafenis geniet en heerlik swem, kuier en baljaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’