Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Riversdal is nou ook op die groter Hessequa-kunsroete - en spog met sy eie kunsgalery.
Die Riversdal-projek is die inisiatief van die kunstenaar Marilise Lombard, wat voorheen die kunste-winkelrestaurant Paddavlei in Kerkstraat bedryf het.
Riversdal se kunsroete het 10 bakens. Dit begin by die Central Boetiekhotel in Hoofstraat, waar die galery geleë is en deur die eienaar, Jakkie Fourie, geadministreer word.
Die roete kronkel dan na die Julius Gordon Africana-sentrum/Huis Versveldt en die Ou Tronk. Inwoners en besoekers is welkom om van die kunstenaars wat in die galery uitstal, per afspraak by hul onderskeie ateljees te besoek.
Elke venue op die roetekaart het 'n nommer en word deur 'n amptelike Hessequa Art Route-baken aangedui:
1. Central Boutique Hotel
2. Julius Gordon Africana-sentrum/Huis Versveldt
3. Ou Tronk
4. Elzett Kotze, De Heuwel
5. Marilise Lombard, Langstraat
6. Cats Paw Pottery, Langstraat
7. Esther Snyman, Miertjieskraal
8. CJ die Loslit DJ, Kerkstraat
9. Voges Meyer, Homeriastraat
10. Saniek du Toit Reitzstraat.
Die skilder, Danie Cronjé se werk kan slegs in die galery besigtig word.
Marilise Lombard, die galerykurator, sê: "Ek glo aan eg-Suid-Afrikaans, trots-Suid-Afrikaans. Alles in die galery is plaaslik geskep. Kom ons benut kuns om besoekers na ons dorp te lok en Riversdal die kunsmekka van Hessequa te maak. Kuns is belangrik vir 'n gemeenskap. Dit voed die siel."
Kyk 'n video hieronder:
Vorige artikel: Die kruk van kuns
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'