STILBAAI NUUS - Stilbaai-toerismeburo is 'n nie-regeringssorganisasie wat sedert 1993 sorg dat dié kusdorp en omgewing so goed as moontlik bemark word en regdeur die jaar meer besoekers sal kry.
Die buro is aan die onderpunt van Langenhovenstraat by Palinggat in 'n historiese ou plaasopstal, wat uit 1814 dateer, geleë. Die oorspronklike plaashuis is in 1809 gebou, maar het afgebrand.
Dit huisves ook die Blombos-argeologiese museum, bewaringstrust uitstalling en die Kontreiwinkel, waar plaaslike entrepreneurs uit die streek hulle produkte bemark. Dis een van die omvangrykste versamelings van plaaslike kuns en kunsvlyt onder een dak. Meer as 45 plaaslike kunstenaars, produkeienaars en vakmanne word hier gehuisves.
Daar is ook 'n koffiewinkel wat seker maak dat jy nie honger hier weggaan nie en die pragtige tuin is die ideale plek om jou batterye te herlaai.
Die kantoor van die toerismeburo dien as inligtingsentrum vir alle besighede, toeriste, organisasies en voornemende toeriste. Die vriendelike en professionele Annerise Wolmarans en Rochalle Minnaar beantwoord daagliks hope navrae in verband met die dorp, hetsy telefonies, per e-pos, sosiale media en in persoon.
Die buro verwelkom jaarliks meer as 7 000 toeriste. Inkomste word deur middel van lidmaatskapfooie, skenkings, die voer van die mak palings, asook toerismegeleenthede genereer.
Hulle bied kaarte, brosjures en algemene inligting, asook toeristehulp en hulp met besprekings vir verblyf aan elkeen wat die dorp besoek of kontak.
Die toerismeburo en museumgedeelte is Maandae tot Vrydae vanaf 08:30 tot 17:00 oop en Saterdae vanaf 08:30 tot 12:30.
Die legendariese mak palings word Maandae tot Saterdag om 11:00 gevoer.
Foto: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'