Gallery Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die eerste Hessequa Heritage-fees wat Saterdag 23 September op dié kusdorpie aangebied is, was 'n groot sukses met 'n totaal van 203 hardlopers en stappers wat deelgeneem het.
Deelnemers was met bussies na die onderskeie wegspringpunte geneem, wat 'n groot pluimpie in die organiseerders se hoed is.
Die deelnemers in die 16 km-afstand is na Jongensfontein se swemkuil geneem, terwyl die 5 km-drawwers en stappers na Skulpiesbaai Natuurreservaat geneem is.
"Vier gedeeltes van Stilbaai se staproetes is gebruik en daar was heelwat geskiedkundige besienswaardighede op die roetes.
Volgens terugvoer wat ons ontvang het, is dat die 16 km-roete nogal uitdagend, maar lekker en goed gebalanseer.
Mense het van ver gekom, selfs van Pretoria, net om aan die geleentheid deel te neem," vertel Elza Botes, een van die organiseerders.
"Ons is groot dank aan ons hoofborg, Harcourts Stilbaai verskuldig."
Met Nasionale Erfenisdag op 24 September in gedagte, het die organiseerders besluit om na afloop van die veldwedlope 'n Brood- en Beskuitfees aan te bied.
Sommige van die jong deelnemers het 'n helpende hand (of breë skouer gekry)...
Dit het groot belangstelling, nie net onder die baasbakkers (manne en dames) uitgelok om in te skryf vir die kompetisie nie, maar ook onder almal wat die dag bygewoon en van die kans gebruik gemaak het om die beskuitblikke te vul.
En in die agtergrond was heerlike boeremusiek wat die voete laat jeuk het!
Die 16 km-manswenner, waar 81 persone deelgeneem het, is Leon Adams van Riversdal, die tweede plek is deur Wayden Lombela van Melkhoutfontein ingeneem en derde is Tommie Visagie.
Kyk 'n video hieronder:
In die vroue-afdeling het Francis Matthee sand in haar opponente se oë geskop, Lodelia Odendaal van Riversdal was tweede en Analie Heyns derde, ook van Riversdal.
Dewald le Grange het die 5 km-pretdraf gewen, terwyl Michelle Kleingunther die vinnigste dame in die afdeling was.
In dié afdeling was 122 deelnemers. Laerskool Bertie Barnard se landloopspan het ook in volle sterkte deelgeneem, onder die wakende ook van hul onderwyser, Verona Pieterse.
Elza Botes beduie aan die 5 km-deelnemers die roete wat gevolg moet word.
Lees 'n vorige artikel: Mooi broodjies word by fees gebak'
ARTIKEL EN FOTO'S: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'