STILBAAI NUUS - Die onbaatsugtige diens wat die NSRI lewer, nie net in Stilbaai nie, maar reg langs die hele kuslyn en selfs in die binneland, word dikwels misgekyk.
Die organisasie se lede is almal vrywilligers wat hulle eie tyd opoffer en hul lewens in gevaar stel om ander mense te red en veilig te hou.
Volgens die NSRI was die tydperk van 15 Desember tot 15 Januarie een van hul besigste feesseisoene nóg.
Landwyd is 201 drenkelinge gered - 'n toename van 26% teenoor die vorige jaar. Die uitroepingsyfer het met 32.5% gestyg, terwyl die mees kommerwekkende statistiek 'n 117% toename in "verdrinking-in-proses" - voorvalle was.
Meer as 'n duisend mense verdrink jaarliks in Suid-Afrika, en daarom bly voorkoming van kardinale belang.
Maak seker kinders ontvang behoorlike waterveiligheidsopvoeding, leer hulle om te dryf en veilig deur water te beweeg, en hou te alle tye 'n wakende oog.
Water en alkohol is ook nie 'n goeie kombinasie nie - beoefen matigheid en sorg dat jy nie nóg 'n statistiek word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’