RIVERSDAL NUUS – Om 1 400 km tussen Riversdal en Newcastle per fiets af te lê, sit nie in enigiemand se broek nie. Maar vir Riversdaller Danie Benson (63) was dit 'n lekker uitdaging toe hy op 1 September uit Riversdal vertrek het.
Sy vrou Louisa (62) het hom met hul bakkie en 'n sleepwa begelei.
Volgens Danie ry hy nog al die jare fiets. In 1982 het hy begin werk en elke dag 10 km werk toe en terug met sy fiets gery. Selfs vandag nog maak hy seker dat hy elke dag sy fiets uithaal en ry, nie net omdat hy voel dat brandstof duur is nie, maar ook om sy oefening vir die dag in te kry.
"Vir my is dit ‘n leefwyse om aan die gang te bly en ek hou van uitdagings."
Louisa het elke dag so 15 km vooruit gery en vir hom gewag sodat hy elke nou en dan iets kon eet en drink of sy waterbottels volmaak voordat hy weer in die pad val.
Saans het hulle op ‘n matras in die bakkie geslaap, aangesien Danie elke dag sover as moontlik wou ry. Juis daarom het hulle nie vooruit plek bespreek nie, want hulle het nooit geweet waar hulle presies gaan eindig nie.
Danie het sowat 1 260 km per fiets afgelê, maar van Wepener af was die pad baie sleg en vol slaggate en mense het om aangeraai om nie die pad met sy fiets aan te durf nie. En dis die enigste rede waarom hy nie die laaste 140 km na Newcastle met sy fiets gery het nie.
Danie Benson geniet middagete langs die pad voordat hy weer die tog na Newcastle verder aanpak. Foto's: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’