Gallery
SLANGRIVIER NUUS - 'n Gesin van Slangrivier het die afgelope week groot skade gely deur die stormsterk winde wat die streek tans ondervind.
Eric en Sophia Pieters van Kleynhansstraat se dak is Maandagoggend, 13 Julie net na 01:00 vir die tweede keer binne vyf dae deur die erge wind losgeruk en meters ver verstrooi.
Die eerste voorval het Donderdag, 9 Julie gebeur toe 'n kleiner gedeelte van die dak afgewaai het. Dié keer het sowat die helfte van die huis se dak losgekom en is dit meters ver deur die lug geslinger, waar dit by twee huise verder geval het. Skade is ook aan die huise aangerig.
Die wind het ook 'n winkel oorkant die Pieters-huis se dak losgeruk. Die eienaars van die winkel is vinnig gehelp en is groot klippe op die dak gepak om dit teen die wind te beskerm.
Nog foto's: Stormwinde waai dak tweede keer af
Volgens Pieters is hulle baie dankbaar teenoor hul bure en vriende wat hulle te hulp gesnel het. Hul huis was tydens Suid-Kaap Forum se besoek onder water en moes hulle keer dat die meubels nie meer skade opdoen nie. Hulle was ook heeldag sonder elektrisiteit as gevolg van die skade. Munisipale werkers het die gesin ook tydens die opruiming bygestaan en teen vroegaand was die werk aan die dak voltooi.
Die stormwind het ook 'n groot boom in Olieboomrylaan ontwortel. Gelukkig was niemand in die nabyheid toe die boom in 'n erf val nie.
Vorige artikel: Dak waai tweede keer af
Genadiglik is niemand beseer toe die boom val nie.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'