RIVERSDAL NUUS - Raadslid Betsie van Noordwyk (wyk 7) is die nuwe voorsitter van die portefeulje tegniese dienste op die uitvoerende burgemeesterskomitee.
Die portefeulje, die grootste by elke munisipaliteit, verg verantwoordbaarheid, aanspreeklikheid en deursigtigheid.
"Die portefeulje moet elke dag omsien na mense se direkte behoeftes," sê sy.
Sy is verantwoordelik vir die bestuur, beplanning, hantering, begroting en implementering ten opsigte van onder meer paaie, elektrisiteit, (storm) water-aanverwante instandhouding en ontwikkeling, rioolbeheer en vullisverwydering.
"My doel is om voort te bou op die reeds gevestigde stabiliteit en om goeie verhoudinge te handhaaf, uit te bou en verder te bevorder."
Grant Riddles, Hessequa- burgemeester, loof Van Noordwyk vir haar kennis van plaaslike regeringswetgewing, begrotingsvaardigheid, haar ingesteldheid jeens praktiese bestuursvermoëns, onpartydige menseverhoudings en haar menslikheid om na alle kante van 'n kwelkwessie te luister.
Hy sê: "Haar kennis en toegewydheid sal my bystaan en onderskraag in my pligte om die beste diens moontlik aan die gemeenskap te lewer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’