STILBAAI NUUS - Die Community Animal Rescue Society (Cars) van Riversdal het Donderdag en Vrydag, 5 en 6 Maart, 'n massasterilisasie in Melkhoutfontein gedoen.
Sandra Lotz van Cars het vooraf deur die strate van Melkhoutfontein gestap om honde en katte te identifiseer en mense kon ook bel om afsprake te maak.
Die gemeenskapsaal in Melkhoutfontein is omskep in 'n tydelike dierehospitaal, kompleet met 'n inboekstasie, wagkamer, teater en herstelgedeelte om die narkose af te slaap.
Vrywilligers by elke stasie het verseker dat die diere te alle tye gemaklik en rustig is totdat hulle weer huis toe kon gaan.
Glen Lorrain, 'n weldoener van Tasmanië, het die sterilisasie deur haar organisasie, From Tassie with Love, gefinansier.
Dit kos gemiddeld R650 om 'n dier te steriliseer en Glen se donasie was genoeg vir 105 diere.
Vetsol Veterinary Solutions, 'n niewinsgewende organisasie van Somerset-Wes, het die sterilisasie gedoen en in die twee dae is 51 katte en 54 honde gesteriliseer.
Vetsol se missie is om bekostigbare, mobiele sterilisasie, inentings en ontwurming in minder-
bevoorregte gemeenskappe en landelike gebiede te doen.
Met die afwesigheid van dierebeskermings-organisasies doen Sandra Lotz van Cars 'n reuse, onbaatsugtige werk en met die hulp van haar vrywilligers en haar man, Thinus, vul hulle hierdie leemte.
Sandra het al die hulp wat sy kan kry nodig om die troeteldiere van Hessequa 'n beter lewe te gee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’