RIVERSDAL NUUS - Die lot van diere in Hessequa kan moontlik in gedrang wees as die Community Animal Rescue Society (CARS) nie vinnig hulp van die gemeenskap en besighede in die omgewing ontvang nie.
'n Bedroefde Sandra Lots van CARS, wat 'n geregistreerde vrywilliger-gedrewe nie-winsgewende organisasie en 'n geregistreerde Openbare Weldoenersorganisasie (OWO) in Riversdal is, het aan Suid-Kaap Forum gesê dat die organisasie nie meer kan voortbestaan as hulle nie finansiële- en fisieke hulp van die gemeenskap en besighede ontvang nie.
Lots het CARS in 2008 gestig en sy en haar man, Thinus, het tot dusver omtrent alles self gefinansier en gedoen.
"My persoonlike koffers is uitgeput en die bietjie finansiële bystand wat ek ontvang kan nie alle uitgawes dek nie. Dit sluit in kos vir diere, huisvesting, sterilisasies en brandstof en maak dit nie volhoubaar nie," sê Lots.
Haar persoonlike voorliefde vir diere is haar dryfveer. "Maar ek kan dit nie meer alleen doen nie," sê sy met trane in haar oë.
"Ek kan nie meer voortgaan sonder dat ek weet daar is 'n konstante finansiële inkomste nie. Ek kan nie dierewelsyn doen sonder finansiële hulp nie.
Die area is groot en ek ry ook elke week Swellendam, Albertinia en Heidelberg toe om diere te help en te laat steriliseer.
Dis belangrik dat die sterilisasie van diere afdwingbaar word deur wetgewing.
Ons plaaslike wetgewing is daar, maar dit word nie toegepas nie.
Dierewelsyn kan nie so voortgaan nie. Die aanteel van diere moet bekamp word en daarvoor is wetstoepassing nodig," beaam Lots.
Lots het by tye tot 14 katte en tans agt honde waarna sy in haar huis omsien totdat daar behoorlike huise vir die diere gevind word.
Suid-Kaap Forum het Dinsdag navrae aan die Hessequa-munisipaliteit gerig oor hulle rol in dié verband.
Mediawoordvoerder by Hessequa-munisipaliteit, Didi Budricks, het as volg gereageer: "CARS is 'n sleutelrolspeler in terme van dierewelsyn en daar is goeie samewerking met Hessequa-munisipaliteit.
In terme van 'n diensleweringsooreenkoms met CARS, is befondsing vir sterilisasie, genadedood en inentings in plek.
Hierdie ooreenkoms verstryk 30 Junie 2027 en stipuleer dat hulp slegs aan behoeftiges verskaf word en word daar jaarliks vir hierdie diens begroot.
Tussentydse intervensies behels dat die munisipaliteit twee weekliks, in samewerking met dierewelsynsorganisasies, diere vir sterilisasie na George en Mosselbaai neem.
Die raad is tans in die proses om die Verordening insake die Aanhou en Behandeling van Honde en Katte (7 Mei 2021) te hersien om voorsiening te maak vir die verpligte sterilisasie van diere."
'n Weldoener in Riversdal, Meghann Louwrens van Riversdal Toyota, het reeds ingespring om CARS te probeer help.
Sy het Dinsdag 'n inisiatief begin wat 'n Facebook-projek is om CARS se volgelinge te betrek en ook die gemeenskap en besighede.
"Wees een van 100 harte vir pootjies.
Stel jou voor jy hoef jou nooit weer te bekommer of 'n honger dier vandag kos gaan kry nie. Met slegs R100 per maand via 'n aftrekorder, kan jy deel wees daarvan dat behoeftige diertjies elke dag kos, skuiling en mediese sorg ontvang," sê Louwrens.
Stel nou jou maandelikse aftrekorder op en word deel van 'n lewensreddende gemeenskap.
Lede van die publiek en besighede word uitgenooi om met idees na vore te kom om hierdie organisasie te help.
Vir meer inligting oor hoe om te help kontak Meghann Louwrens by 072 797 2544 of Sandra Lots by 082 962 1831.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’