HEIDELBERG NUUS - Die twee mans, onderskeidelik 39 en 40 jaar oud, wat glo ‘n jong ma van dié dorp met ‘n byl aangerand het, het Maandag 29 April vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die 33-jarige slagoffer en ma van drie jong seuns is na bewering Sondagoggend 21 April met ‘n byl aangerand en per ambulans na die hospitaal op George met ernstige kopbeserings vervoer.
Sy is die volgende dag per lugambulans na Groote Schuur-hospitaal oorgeplaas waar sy ‘n suksesvolle noodoperasie ondergaan het.
Sy is intussen ontslaan en sterk by die huis aan.
Die twee beskuldigdes het op Woensdag 24 April vlugtig in die hof op Swellendam verskyn, Die saak is op Maandag 29 April na hul tweede verskyning weer tot Dinsdag 7 Mei uitgestel.
Albei mans is borgtog geweier en word in Buffeljagsrivier aangehou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’