HESSEQUA NUUS - Bye- en graanboere moet saamwerk om te voorkom dat bye in die slag bly wanneer kanolalanderye met insekdoder bespuit word.
'n Vergadering wat op 7 Februarie by Buitenverwachting Wynlandgoed in Constantia gehou is, het kwessies rakende die verkeerde en soms onwettige gebruik van sekere insekdoders wat tot massasterftes van bye kan lei, bespreek.
Dr. Gerhard Verdoorn van CropLifeSA het die vergadering gelei wat deur die Wes-Kaap Byebedryfvereniging (WKBV) gereël is. Dit is bygewoon deur kanolaboere en verteenwoordigers van verskeie instansies wat rolspelers in die bestuiwingsbedryf is.
"Inligting oor die vernietigende uitwerking van insekdoders op bye het baie gehelp om wedersydse begrip tussen kanolaboere, die verskaffers van insekdoder en die byeboere te kweek," sê John Moodie, 'n byeboer van Heidelberg.
Die bykans 50 byeboere in die streek hou bye aan vir die produksie van heuning en bestuiwingsdienste. Veral fynbosheuning is gesog, want die bye is gesond en die heuning van goeie gehalte. Hoeveelhede is egter beperk tot sowat 15 kg/korf per jaar. In Australië word 90 kg/korf produseer.
Die gebrek aan genoegsame, volhoubare voeding vir bye is 'n groot probleem. "Te veel bye en heuning wat te dikwels geoes word, is nadelig vir produksie," sê Moodie.
"Ek dink daar is te veel bye in die fynbos wat nie onderhou kan word nie. Wanneer die kanola in blom is en nie bespuit word nie, is daar genoeg voeding vir die bye. 'n Tekort aan nektar en stuifmeel kan tot byesterftes lei en kunsmatige voeding word nie in heuningproduksie toegelaat nie.
Ander faktore wat bye in die streek bedreig
- Droogte - weens die droogte is net 20% van die normale heuningoes produseer;
- Vuur - brande in Hessequa het tot groot verliese aan byekorwe gelei;
- Ratels - die diere roof heuning uit korwe, al is dit hoog monteer;
- Diefstal van heuning - dis gelukkig nie so 'n groot probleem in Hessequa soos elders in die Wes-Kaap nie.
'n Nuwe selfoontoepassing, BEEMAP, wat kanolaboere sal help om hul voornemens om gif te spuit met byeboere te kommunikeer, word nou ontwikkel.
André de Jager, voorsitter van die Suid-Kaap Byebedryfvereniging (SKBBV) sal die toepassing tydens die algemene jaarvergadering bespreek.
Kontak Ryna Sauerman by 076 398 0892 om teenwoordigheid by die vergadering, wat om 09:30 vir 10:00 op Saterdag 2 Maart by Swartklip, Albertinia gehou word, te bevestig.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'