HESSEQUA NUUS - Hessequa se buurt- en plaaswagte het Donderdag, 17 September in samewerking met Riversdal-polisie ’n vermeende inbreker in hegtenis geneem.
Die polisie het Johan Crous, veiligheidsvoorsitter van die buurtwag omstreeks 07:30 op dié dag om hulp genader nadat ’n soektog na die verdagte die vorige dag onsuksesvol was.
Crous het die Albertinia- en Riversdal-buurtwag se reaksiespanne ontbied om aan die soektog deel te neem. Een van AfriForum se hommeltuie is ook ontplooi.
Viertrekvoertuie en die polisie se honde-eenheid is ingespan tydens ’n soektog in die Brandrivier-omgewing. Die verdagte is verskeie kere opgemerk, maar hy kon weens die ruwe, uitgestrekte terrein elke keer weer verdwyn. Teen skemer het die polisie onttrek, hoewel lede van die AfriForum-reaksiespanne agtergebly het.
Die verdagte het teen vroegaand weer sy verskyning gemaak en is deur die reaksiespanne in hegtenis geneem. Hy is daarna aan die polisie oorhandig.
“Dié suksesvolle inhegtenisname is ’n baie goeie voorbeeld van wat ons kan vermag as ons saamwerk. Ons wil graag vir kapt Yolandi January en haar span bedank vir die vertroue in ons strukture. Dit was vir ons bemoedigend om te ervaar hoe sukses op voetsoolvlak behaal kan word as ons saam met die polisie werk en ons gesamentlike vermoë kan inspan om ’n verskil te maak,” sê Crous.
“Vir AfriForum is samewerking met die polisie deurslaggewend en tot voordeel van almal in die gemeenskap. Ons bedank Riversdal-polisie, wat aan ons die geleentheid gebied het om daad by woord te voeg. Mag dit die weg baan vir nog vele suksesverhale in die toekoms,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
Raak vandag nog by AfriForum se Hessekwa-tak betrokke: SMS “Hessekwa” na 45342 (R1).
Lede van AfriForum se plaaslike veiligheidstrukture saam met die polisielede.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'